NovaNews

Televisie- en radioman Johnny Davids (49) sterf skielik


PRETORIA – Eerbetuigings en medelye stroom van oor Suid-Afrika en Namibië heen in na die aankondiging van die skielike dood van die gewilde televisie-aanbieder, radio-omroeper, sportkommentator, kunstenaar en skrywer, Johnny Davids.

Die 49-jarige is vermoedelik in die vroeë oggendure van Donderdag 16 April aan ‘n hartaanval in ‘n gastehuis in Pretoria oorlede. Die oorsaak van dood kon nie bevestig word nie.

VIA (DStv-kanaal 147) het in ‘n persverklaring die hartseer nuus bevestig.

Davids, oorspronklik van Walvisbaai in Namibië, was een van die veldaanbieders van die kanaal se geliefde landbouprogram Landbouweekliks. “Johnny was ‘n uitsonderlike mens met ‘n besondere verhaal van oorwinning en hoop,” sê Azelia Morkel, kanaalhoof van VIA.

“Sy passie vir mense en sy vermoë om met boere én kykers te konnekteer, het hom ‘n welkom gesig op die kanaal gemaak. Ons gedagtes en gebede is by sy vrou Liezel, sy drie seuns en uitgebreide familie gedurende hierdie moeilike tyd.”

Davids het hom in 2024 by die Landbouweekliks-span as veldaanbieder aangesluit. Foto: VIA
Davids (middel) het hom in 2024 by die Landbouweekliks-span as veldaanbieder aangesluit. Foto: VIA

Talentvol

Luidens die verklaring het Davids hom in 2024 by die Landbouweekliks-span en die groter VIA-familie aangesluit, “waar hy met sy warmte, professionaliteit en passie ‘n geliefde lid van die span geword het”.

“Die televisie- en sportaanbieder het ‘n merkwaardige loopbaan gehad wat hom van Walvisbaai en die Kaapse Vlakte na SA se televisieskerms geneem het,” lui die verklaring. “Hy was onder andere ‘n gerespekteerde SuperSport-kommentator en het onlangs sy outobiografiese boek, Boytjie, uitgegee – ‘n eerlike vertelling van sy reis van ‘n moeilike kindertyd na sukses en genesing. Hy het ook ’n suksesvolle musiekloopbaan gehad.”

Davids was ook ‘n motiveringsspreker wat sy lewenservaring gebruik het om ander te inspireer en hoop te gee.

Davids onthou

Sedert die aankondiging van sy dood, het talle bekendes huldeblyke op sosiale media geplaas.

Die pastoor en skrywer Ivor Swartz het op Facebook foto’s van hom en Davids gedeel. “Ek hoor nou by ’n vriend dat Johnny Davids afgesterf het. Liezel en familie, Boytjie is dood. Maar sy getuienis leef voort. Mag Vader julle troos, julle versterk, julle Sy ewigheidsperspektief laat behou! Johnny, my broe, nou sal ek eers eendag in die hemel kan reply op jou voicenote,” het Swartz geskryf.

Daniëlla van Heerden, ‘n voormalige eNuus-aanbieder, het met haar plasing op Facebook ‘n video van Davids se Kwêla onderhoud met Hannes van Wyk gedeel. Sy het geskryf: “Baie hartseer om te lees dat die sanger, aanbieder en skrywer Johnny Davids, vanoggend vroeg oorlede is aan ‘n hartaanval.”

Bok Radio het ook hul medelye op sosiale media gedeel: “Ons harte is seer! Die geliefde radio-omroeper, musikant, TV-aanbieder, sport kommentator en groot vriend en oud-kollega by Bok Radio, Johnny Davids is vanoggend in die ouderdom van 49 oorlede. Ons innige simpatie en meegevoel gaan uit aan al sy familie en vriende in hierdie moeilike tyd. Julle is in ons gebede. Jou stem is dalk nou stil, maar jou teenwoordigheid en passie vir dit waarvoor jy lief was bly voortleef! Rus sag, Johnny… Ons gaan jou mis!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article