Hard aan die werk agter die skerms om elke week te verseker dat Novus Media Gemeenskapsnuus in die Vrystaat en Noord-Kaap se koerante tot puik produkte saamgevoeg word, is ‘n span ervare redaksielede.

Die splinternuwe BloemNuusExpress wat op 2 April die eerste keer in Bloemfontein en 20 dorpe om die stad verskyn het, is een van die produkte waaraan die span werk.

Karen Herbert, groepredakteur vir Novus Media Gemeenskapsnuus in die sentrale streek, is die oorkoepelende redaksionele inhoudshoof van die vier gemeenskapskoerante wat benewens BloemNuus-Express, NoordkaapBulletin in die Noord-Kaap, Vista in die Goudveld en VrystaatKroon in Kroonstad en Bethlehem insluit.

Karen maak seker die publikasies lewer konsekwent gehalte- plaaslike nuus wat toepaslik bly vir die gemeenskappe wat hulle bedien. Sy skakel baie nou met die advertensiespanne, subkantoor en die redakteurs van die verskillende publikasies.

Sy is werk al 24 jaar in die koerantbedryf en 17 jaar daarvan by gemeenskapskoerante.

“Ek hou van die mense saam met wie ek werk – saam met dié span sal ek enige dag oorlog toe gaan.

“Die skakeling met lesers en adverteerders maak my opgewonde.

“Ná soveel jare is dit steeds my gunstelingwerk om met nuus te kan werk. Ek hou van die stories, woorde, taal en om te deel in mense se vreugde en hartseer.”

Karen sê dit is lekker om te sien watter verskil gemeenskapskoerante in baie mense se lewe kan meebring.

“Van die projekte waarby ons betrokke is, help ons mense op meer as een manier. Dit is lekker om te weet die hiper-plaaslike nuus wat die

koerante bied, lig mense in en betrek en bemagtig gemeenskappe om ons.”

Madré Marais is die hoof-subredakteur van Novus Media Gemeenskapsnuus in die sentrale streek. Sy sal in Oktober reeds 15 jaar deel van die plaaslike redaksiespan wees.

“My dagtake lê aan die hart van koerantmaak – dit is in die subkantoor dat die koerant ‘aanmekaargesit’ word. Die subs skakel met die redakteurs van ons koerante en werk saam om inhoud sinvol en lekker te verpak, waarna die stories met foto’s op die blaaie uitgelê word en ons die opskrifte skryf.

“Dit is die stap in produksie voordat dié blaaie na die voorpersafdeling en die rolpers gestuur word.

“Die subkantoor is ook die ‘enjinkamer’ wat betref ons koerante se aanlyn inhoud, waar dinge soms blitsig moet gebeur tussendeur die gewone aanspraak van druk-spertye.”

Madré meen dit is terselfdertyd ‘n lekker voorreg én ‘n reuse-verantwoordelikheid om met ander mense se stories te werk.

“Dit is nou: die mense waaroor die stories geskryf word, maar ook die verslaggewer wat dié stories skryf.

“Op dié manier leer jy eerlikwaar elke dag iets nuuts, dikwels oor

dinge wat jy nooit sou verwag het om enigiets van te weet nie.”

Inge Strydom is ‘n subredakteur en die ster in die span wat uitleg betref.

Sy werk die afgelope 16 jaar in die koerantbedryf, waarvan die afgelope 15 jaar in die gemeenskapskoerantespan.

“Ek doen iets van alles – uitleg en ontwerp, sosiale media, redigering van berigte in die gedrukte koerant en aanlyn, die skryf van opskrifte en enige ander dinge wat tussendeur gebeur.”

Sy sê die lekkerste van haar werk is die opwinding en uitdagings van dinge wat vinnig moet gebeur.

“Dit is vir my lekker om kreatief te wees en nuwe idees uit te toets. My werk het elke dag iets nuuts, en dit is lekker om te weet ons lig nie net die gemeenskap in deur die nuutste nuus te deel nie, maar werk ook saam om mense se stories te vertel.

“Ek is dankbaar vir my bekwame kollegas, want saam is ons verseker ‘n wenspan.”

Shirwan Newton is die nuutste toevoeging tot die subkantoor.

Binnekort sal dit vier jaar wees sedert hy hom as subredakteur by die span in Bloemfontein aangesluit het. Hy help met taalversorging, die skryf van opskrifte en bladuitleg.

Vir Shirwan is die lekkerste van sy werk die kreatiwiteit en toewyding daarvan om die koerante betyds voor spertye klaar te kry.

“Dit is vir my lekker om ná druktyd deur die koerante te blaai. Dit voel soos ‘n klop op die skouer vir nog ‘n week se goeie werk gelewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article