Herstelwerk het verlede week begin aan die gebou wat die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum huisves. FOTO: Lientjie Mentz

Herstelwerk is verlede week begin aan die gebou wat die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) huisves.

Nico Killian van Nurite Roofing sê die kontrak behels R990 000 se opknappings van hoofsaaklik die gedeelte van die gebou wat sinkdakke het.

“Al die sinkdakke van die gebou word met nuwe wit Chromadek klip-lite plate vervang. Al die houtfassieborde word met nuwe 12mm Nutec-fassies vervang.”

Die sinkdakke wat nou vervang gaan word. FOTO: Verskaf

Hy sê al die ou, staal geute word ook vervang.

Killian sê die fassies en geute is reeds vervang en die nuwe plate word op 9 April afgelewer.

“Ons behoort dit binne twee weke te kan aanbring.”

Benewens die werk wat nou gedoen word, gee hulle ook aandag aan die ernstige lekkasies vanaf die dak van Naln.

Madelane Gerber van Roodt-argitekte is die argitek op die projek en die kontrakteurs is aangestel deur die Vrystaatse departement van sport, kuns en kultuur.

Daar is baie waterskade aan die gebou, maar die eerste stappe is nou geneem om gedeeltes van die dak, geute en fassies te vervang. FOTO: Lientjie Mentz

Die gebou is in 1908 deur ‘n brand verwoes en is in 1910 oorgebou en ‘n ekstra verdieping is toe bygelas.

Madelane verduidelik die dele met die sinkdakke is meestal diensruimtes en die saal wat later aangebou is.

Sy sê dit is wonderlik dat die departement belê in dié gebou waar belangrike navorsing gedoen word en dokumente van die Afrikaanse en Sotho tale bewaar word.

“Daar is baie wat aan die gebou gedoen moet word. Die volgende projek is die aankoop en installasie van dompelpompe vir die kelder.”

Die pompe word gebruik om water uit te pomp wanneer dit reën. Water word dan uitgepomp om die kelder droog te maak en die boeke daar te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article