VREDENBURG – Die berugte vermeende sosialemediabedrieër Billy Lightfoot het die afgelope Dinsdag (12 Augustus) weer in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van bedrog verskyn.
Lightfoot het na bewering landwyd mense wat moes verhuis, onder die name “BA Transferals” en “Country Wide SA (PTY) LTD” ingedoen.
Hy is op 17 Februarie vanjaar in die Paarl in hegtenis geneem nadat hy glo met ‘n pensioentrekker van Jacobsbaai se hele trek verdwyn het.
Sy het van Jacobsbaai na Springs verhuis, glo vir Lightfoot betaal, maar nooit weer haar meubels en ander persoonlike eiendom ter waarde van R150 000 gesien nie.
Speurder-adjudant-offisier Hein Schmidlin van die Saldanha-polisie het Lightfoot in die Paarl opgespoor en vasgetrek.
Lightfoot is op 26 Februarie op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet een keer per week by die Paarl-Sentraal-polisiekantoor aanmeld.
Lightfoot loop mense na bewering in met die trek van meubels en vervoer van items. Meer as 100 sake is oor die land heen teen Lightfoot aangemeld – in Piketberg, Paarl, Somerset-Wes, Belville, Gordonsbaai, Pinelands, Mitchell’s Plein, Milnerton, Houtbaai, Tafelsig (Kaapstad), Knysna, George, Witbank, Lyttleton en Linden (Pretoria), Springs, Roodepoort, Honeydew, Kemptonpark (Johannesburg), Oudtshoorn, Welkom en Port Alfred.
Nóg sake word blykbaar in die Oos- en Noord-Kaap en Limpopo ondersoek.
Verhuurders het ook al uitsettingsbevele teen hom gekry. Die ander klaers hou nou hul asem op dat die saak in die Vredenburgse streekhof afgehandel word sodat hul sake kan begin.
Die saak, wat na die streekhof geskuif is, is uitgestel tot 23 September.
Hoewel Lightfoot by die borgtogvoorwaardes hou en wel weekliks by die Paarl-Sentraal-polisiekantoor aanmeld, is daar onsekerheid oor wat sy vaste woonadres op die oomblik is. Kontak Schmidlin by 082 324 0533 met enige inligting oor sy woonadres.
• Lesers word gewaarsku dat Lightfoot moontlik met sy bedrywighede op Facebook en Instagram voortgaan, ook onder die naam Alpha Logistics.





