Brand in berge by Kogmanskloof buite Ashton.
Daar was vroegoggend ‘n brand in die berge by Kogmanskloof buite Ashton. Foto: Verskaf

Die brand wat vroegoggend in die berge bo Kogmanskloof in die Ashton-omgewing ontstaan het, is onder beheer gebring sonder dat enige skade aan infrastruktuur aangerig is.

Die brand het volgens die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) laer af in die kloof begin en is deur die digte plantegroei en sterk wind aangedryf. Twee gebroke vuurlyne was vanoggend kort ná 08:00 aktief. Een van dié lyne het in die rigting van Montagu beweeg en die ander in die rigting van Barrydale.

“Hoewel die brande geblus is, bly die branddienste waaksaam,” het Jo-Anne Otto van die KWDM se kommunikasie-afdeling gesê. Die brandseisoen is gewoonlik vanaf einde Oktober tot April.

Brandbestrydingspanne van die KWDM en die Langeberg-munisipaliteit was met hul toerusting op die toneel. Ligte reën wat geval het, het gehelp om die vuur te blus.

Vier brandbestrydingsvoertuie en -spanne was ontplooi.

Een van KWDM se brandbestryders, Alec Wher, het dié video geneem:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article