Noordkaap Bulletin

Barney-verhoor wat na verwagting jare kan duur kom nie op dreef

George Peters, ook bekend as Barney. Foto: Charné Kemp
George Peters, ook bekend as Barney. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Met etlike regsaansoeke en regsvrae voor die hooggeregshof in Kimberley is die lewering van getuienis in die verhoor van die vermeende bendeleier “Barney” oftewel George Peters die afgelope weke vertraag. Dié verhoor kan na verwagting jare duur.

Weens etlike regskwessies is die verhoor op Dinsdag 18 November na 5 Desember uitgestel omdat drie van die beskuldigdes nuwe regsverteenwoordiging moet kry.

Die 16 beskuldigdes word van altesaam 117 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering en verkragting aangekla. 

Peters, oftewel Barney, en sy medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak en die vroue  is glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.

LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ sê hy is ‘n ‘rolmodel, onskuldig’ en ‘het geen tatoeërmerke’

Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza  en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue en vermeende makkers.

Peters is reeds uit die verhoor verwyder weens sy ontwrigtende gedrag nadat die hof oor twee dae moes luister hoe sy brief waarin hy sy onskuld bepleit, voorgelees en getolk word. Hy het egter Vrydag weer sy opwagting in die hofsaal gemaak omdat hy sy regverteenwoordiger, adv. Vasiliki Patrinos,  wou afdank en homself verteenwoordig. Hy is deur Regshulp Suid Afrika sterk afgeraai om dit in so ‘n komplekse saak te doen.

George Peters, ook bekend as Barney, word deur gewapende polisielede na die hof se selle begelei. FOTO: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Peters voer glo aan hy is onskuldig en wil sy kinders sien, en dit rede genoeg is dat hy homself kan verteenwoordig. Boonop weier hy om in die hofsaal te sit en na die getuies se “leuens” te luister. Hy was verontwaardig toe die regter verlede week bevestig hy moet die verhoor enduit uitstaan, waarna hy reken hy “onskuldig” bevind sal word.

Regsverteenwoordiger stel sielkundige waarneming voor

Maandag se sitting het begin met Patrinos wat verduidelik het hoekom Peters nie met haar aan sy saak saamwerk nie, en hy haar al by tye wou afdank. Patrinos het aan die hof voorgestel dat Peters in belang van geregtigheid en ter wille van sy eie saak sielkundig waargeneem word.

Regter Stanton het Dinsdag die staat se aansoek toegestaan dat Peters homself moet verskoon weens botsende belange. Dié aansoek spruit uit die staat se aanbieding van Demeon Hannie as getuie, wat in aanhouding is nadat hy op onbekende misdade skuldig bevind en gevonnis is.

Rosenberg het met ‘n vorige hofsitting gesê Hannie, as ‘n Artikel 204-staatsgetuie, sal oor voorvalle getuig waarin hy homself kan inkrimineer op misdrywe soos poging tot moord, dwelmhandel, afvuur van vuurwapens in beboude gebiede en die onwettige besit van vuurwapens  en ammunisie. Indien sy getuienis eerlik en openlik is, mag hy deur die regter vrygespreek word.

Hierop het Renier Pieterse, sy regsverteenwoordiger, destyds beswaar gemaak, maar die regter het ná betoë beslis Hannie mag getuig. Intussen het dit aan die lig gekom dat Pieterse voorheen vir Hannie as regsverteenwoordiger opgetree het. Dit het die staat genoop om verlede week die aansoek te bring dat Pieterse homself weens botsende belange moet verskoon, wat Pieterse teengestaan het.

Pieterse se twee kliënte, Hofuza en Smith, moet saam met Peters op 5 Desember verskyn sodat nuwe regsverteenwoordigers van Regshulp Suid-Afrika aan hulle toegewys kan word.

LEES OOK: Boek oor bendes geskryf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article