Bainskloofpas is wéér vandag (16 September) gesluit toe nog ‘n vragmotor, dié keer met ‘n lang wa wat ander voertuie vervoer het, naby aan Gawie se Water in bewolkte en reënerige omstandighede omgeslaan het.
Volgens Stephan Landsberg, ‘n VF Plus-raadslid in Wellington, is die pas glo om 12:00 gesluit nadat ‘n vragmotor glo vinnig in die pas gejaag het en inwoners kort daarna gehoor het dit het omgeslaan.
Sover Paarl Post kan aflei is die pas steeds gesluit.
Paarl Post het uitgereik na die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur vir kommentaar wat bygevoeg sal word sodra dit ontvang word.
Jandré Bakker, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, het by ‘n vorige geleentheid aan die koerant gesê vragmotors sit gereeld in dié pas vas al word hoogte- en lengtebeperkings duidelik aan albei kante van die pas aangedui.
“Die voormalige Departement van Vervoer en Openbare Werke (nou die Departement van Infrastruktuur en die Wes-Kaapse Mobiliteitsdepartement) het versoeke aan GPS-toepassings gestuur om ook waarskuwings op kaarttoepassings by te voeg.
“Daar hang ook dwarsbalke met gewigte oor die pad aan albei kante van die pas, maar die werklikheid is dat voertuie die gewigte só hard getref het dat dit afgeruk is, wat slegs die dwarsbalk laat oorbly het.”
Om ’n permanente struktuur met ’n laer, vaste hoogte te bou, sou nie prakties wees nie, aangesien daar dele is waar swaarvoertuie toegang verby hierdie punte benodig, maar nie deur die pas nie, vir landboudoeleindes.
Bainskloofpas is geleë tussen Wellington en Ceres en verbind dié twee dorpe met mekaar.


