Two high-ranking Gauteng SAPS officers, including a civilian set to appear in the Kempton Park Magistrates' Court in connection with alleged illicit dealing in and unlawful possession of precious metals.
Appèlhof bevind die aanstel van adv. Johannes Roelofse as regter is ongrandwetlik.

Appèlhof verklaar RDK se regtersaanbeveling ongeldig


In ‘n uitspraak wat verreikende gevolge vir die aanstelling van regters in Suid-Afrika mag hê, het die Appèlhof in Bloemfontein die aanbeveling van die Regterlike Dienskommissie (RDK) om adv. Johannes Hendrikus Roelofse as ‘n permanente regter aan te stel, ongrondwetlik en ongeldig verklaar.

Die eenparige uitspraak, wat op 7 Julie deur appèlregter T. Makgoka gelewer is, volg op ‘n suksesvolle appèl deur die Mpumalanga Vereniging van Advokate (MVA).

Die saak het sy oorsprong in die RDK se besluit in Oktober 2021 om Roelofse vir ‘n pos in die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof aan te beveel. Die MVA het die RDK se besluit om die respondent aan te beveel in ’n aansoek in November 2021 betwis. Hulle het aangevoer die besluit geneem is sonder om die MVA se kritiese skriftelike kommentaar oor die respondent en sy beswaar teen sy kandidatuur te oorweeg, selfs al is dit ná die sperdatum ingedien.

Die kommentaar het betrekking gehad op die respondent se beweerde gebrek aan integriteit in sy persoonlike finansiële sake, sy temperament, en sy regskennis. Roelofse het na bewering die RDK in sy vraelys mislei deur te verklaar hy het sy volle skuld aan die MVA vir baliefooie vereffen. Hy het glo sy nie ooreengekome betalingsplan nagekom nie. Roelofse het glo ook die MVA op onbehoorlike wyse omseil deur ‘n brief van goeie stand van die plaaslike Regspraktykraad (LPC) aan te vra, wetende dat hy nie een van die MVA sou verkry nie omdat hy nie in goeie stand was nie.

Die MVA het aangevoer die goedkeuringsproses was fundamenteel gebrekkig omdat die kommissarisse nie bewus was van ernstige klagtes teen Roelofse se integriteit en temperament nie.

Een van die kwessies in die appèlhofuitspraak is Roelofse se sogenaamde “regterlike temperament”.  Die MVA het in 2020 aangevoer Roelofse is “skurf, ontwrigtend en nie oop vir oorreding nie” in sy benadering.

Dié gedrag was glo te sien tydens sy onderhoud met die RDK op 8 Oktober 2021 as kandidaat vir ‘n permanente aanstelling as regter in die Mpumalanga-afdeling. Daar  was ‘n woordewisseling met kommissaris Thandezani Madonsela SC.

Volgens die hofrekords het Roelofse vir Madonsela herhaaldelik in die rede geval terwyl hy hom uitgevra het oor die agterstallige ledegelde. Madonsela het hom tereggewys en gevra: “Sit jy woorde in my mond?” en gesê. Roelofse het ook gesê dis tyd vir sy aanstelling omdat hy “wit” is.

Die Appèlhof het bevind dié optrede die MVA se klagtes oor sy temperament bevestig.

Appèlregter T. Makgoka het bevind Roelofse se regterlike temperament is  “sentraal ” tot die twis.

Die uitspraak skets ook ‘n prentjie van Roelofse se finansiële sake. Die MVA het hom in 2020 op drie aanklagte van wangedrag aangekla. Dit sluit ingesluit bewerings in dat hy in samespanning met sy vrou, wat destyds die MVA se boekhouer was, probeer het om fakture bedrieglik aan die vereniging te sedeer om sy skuld van meer as R124,000 te verminder.

Daarbenewens het Roelofse versuim om ‘n siviele vonnis van sowat R31,000 vir agterstallige skoolfondse in sy aansoekvorm te meld.

Hoewel Roelofse aangevoer het dat hy weens sy lang periodes as waarnemende regter finansiële probleme ondervind, het die Appèlhof bevind hy het gedurende sy aanstelling as ‘n volwaardige regter salaris ontvang. Sy verskonings word bevraagteken.

Die hof het bevind Roelofse had ‘n plig om al sy skuld en relevante finansiële verpligtinge aan die RDK te openbaar. Sy versuim om dit te doen, het die RDK ontneem van die geleentheid om sy geskiktheid as regter behoorlik te beoordeel.

Luidens die uitspraak  is die RDK se besluit hersienbaar ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA). ‘n Belangrike faktor was dat die RDK-sekretariaat op eie houtjie besluit het om nie die MVA se laat besware aan die kommissarisse te toon nie. Die hof het dit as ‘n “wesenlike feitefout” bestempel en gesê ‘n besluit wat in onkunde van relevante feite geneem word, kan nie standhou nie.

Die jongste uitspraak het ook die Gautengse Hooggeregshof se vroeëre besluit, waarin bevind is die gebrek aan inligting maak nie ‘n verskil aan die finale uitslag nie, tersyde gestel. Die Appèlhof meen dis nie vir ‘n hof is om te besluit hoe die RDK sou reageer as hulle die volle feite gehad het nie.

Die  saak is na die RDK teruggestuur vir heroorweging. Die RDK moet Roelofse se kandidatuur opnuut evalueer met inagneming van die klagtes oor sy temperament, sy agterstallige skuld en die bewerings van finansiële wanpraktyke.

Die uitspraak is ondersteun deur regters D.H. Zondi, B. C. Mocumie,  T.V.  Norman en M. Mamosebo (waarnemend).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article