Komani Karoo Express

AfriForum stuur prokureursbrief aan minister met beswaar teen Graaff-Reinet se naamsverandering

AfriForum het vandag ’n prokureursbrief aan Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, gestuur om beswaar teen die naamsverandering van Graaff-Reinet te maak.
Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur. FOTO: Verskaf

GRAAFF-REINET – AfriForum het vandag ’n prokureursbrief aan Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, gestuur om beswaar teen die naamsverandering van Graaff-Reinet te maak.

Dit volg op die minister se aankondiging in die Staatskoerant van 6 Februarie dat die dorp voortaan Robert Sobukwe-dorp sal heet.

Die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name 118 van 1998 maak voorsiening vir sodanige besware wat binne 30 dae ná die publikasie van ’n naamsverandering aangeteken mag word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, berus dié burgerregteorganisasie se beswaar onder meer daarop dat die Oos-Kaapse provinsiale beleid wat pleknaambenoeming reguleer, beklemtoon dat die naamsverandering van plekke van besondere historiese betekenis net in uitsonderlike gevalle oorweeg moet word.

Wat Graaff-Reinet betref, wat sedert die dorp se ontstaan 240 jaar gelede hierdie naam dra, kan geen sodanige omstandighede volgens AfriForum gevind word nie. In teenstelling met die beleid, dui die verandering ook daarop dat die nodige oorweging nie aan die bewaring van die dorp se historiese en kulturele erfenis geskenk is nie.

LEES OOK: Major counterfeit goods bust nets R385 000 in Chris Hani District

In die skrywe verwys AfriForum na die studie van Prof. Ronnie Donaldson wat bevind het dat 83,6% van die dorp se inwoners teen die naamsverandering gekant is.

“Hoewel beweer word dat die naamsverandering tot meer maatskaplike samehorigheid gaan lei, is dit besig om die teendeel te vermag, met groeiende plaaslike en nasionale verdeeldheid hieroor. Inwoners voel selfs dat die minister en ander betrokke owerhede doof vir hul stemme is,” sê Bailey.

“Die naamsverandering kan onberekenbare skade aan die kultuurhistoriese inhoud van die naam, die toerismebedryf, die plaaslike ekonomie en verhoudings tussen gemeenskappe aanrig. Die verantwoordelike keuse sal wees dat die minister eenvoudig die verandering terugtrek,” meen sy.

AfriForum doen ’n beroep op almal wat Graaff-Reinet se naam wil beskerm om hierdie ondeurdagte verandering teen te staan en die petisie daarteen hier te onderteken.

LEES MEER: March deadline set for Eastern Cape name change objections

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article