Affies het Saterdag 14 Maart die harde manier geleer dat ‘n mens niks op Waterkloof se veld verniet kry nie.Die Witbulle het met ‘n 34-20 oorwinning geseëvier in ‘n wedstryd wat van begin tot einde soos ‘n drukkoker gekook het.
Dit was klassieke derby-rugby, fisies en absoluut genadeloos. Albei spanne het elke sentimeter van die veld betwis asof die seisoen daarvan afhang, en die intensiteit het die soort lesse opgelewer wat geen oefensessie ooit kan naboots nie.
Ruan Jacobs, hoof van rugby by Affies, het geen illusies gehad oor wat sy span in die gesig gestaar het nie.
“Ons het altyd geweet dit gaan fisies wees, Kloof gaan lê nooit op hulle eie veld nie. Ons het ‘n goeie begin gehad, die 10 minute net voor en net na rustyd het ons bietjie uitgesak, ons het Kloof bietjie terug in die wedstryd toegelaat,” het Jacobs erken.
Daardie kritiese tydperk, staan nie verniet as die kampioensminuut bekend nie.
“Die ouens het goed gedoen om uit dit uit te kom, so toe eindig ons ook goed. Dit is ‘n goeie begin vir die seisoen, ons het baie lesse geleer wat ons in komede Saterdag se wedstryd teen Paul Roos kan invat,” het Jacobs bygevoeg, sy blik reeds op die volgende uitdaging gevestig.
Die 14-punt verskil op die telbord vertel egter nie die volle verhaal van ‘n wedstryd nie.
“Ek dink dit is ‘n wedstryd wat ons kon gewen het, ek dink nie die 50-50 besluite het nie na ons kant toe gegaan nie. Ek is baie trots op die seuns oor hoe hard hulle baklei het. Hulle het vir 70 minute hard gedruk en nooit opgegee nie,” het Cobus van Dyk, direkteur van rugby by Waterkloof gesê.
Daardie volharding, die weiering om te buig selfs toe die telbord teen hulle begin draai het, is die soort karakter wat afrigters nie kan aanleer nie. Dit moet van binne kom, en Waterkloof het dit in oorvloed gehad.
Maar karakter alleen wen nie wedstryde nie. Uitvoering doen.
“Ons uitvoering het ons bietjie in die steek gelaat met tye. Ons het Affies te veel, te maklik ‘off the hook’ gelaat. Klein goed wat ons geleer het, wat ons sal regmaak,” het die Waterkloof-afrigter erken.
Daardie klein goedjies teen ‘n span soos Affies, wat meedoënloos is om foute uit te buit, maak die marge vir foute baie klein.
“Dit is ‘n spesiale groep in 2026, hulle wil hard baklei vir die trui, skool en gemeenskap,” het Van Dyk beklemtoon.
Vir Affies wag die volgende toets, ‘n reis na die Boland om teen Paul Roos te kragte te meet, waar die lesse van Saterdag dadelik toegepas sal moet word.
Vir Waterkloof lê Piet Retief voor, ‘n kans om daardie klein goedjies reg te maak. Die seisoen is het nou behoorlik afgeskop, die lesse is geleer, en die beste lê nog voor.





