Die moontlikheid van ’n El Niño-weerstelsel later vanjaar laat landbou produsente reeds hul beplanning vir die komende somerproduksieseisoen hersien. Hoewel daar nog onsekerheid bestaan oor die uiteindelike omvang van die verskynsel, meen landbouleiers en weerkundiges dat boere reeds nou voorsorgmaatreëls behoort te tref en risiko’s noukeurig behoort te bestuur.
Volgens Hendrik Knobel, Vrystaat Landbou se streeksverteenwoordiger in Bethlehem, is die voorspelling nie noodwendig die nuus waarna produsente uitgesien het nie. Hy sê boere is egter bewus van die uitdagings wat ’n El Niño-seisoen kan meebring en sal hul bestuurspraktyke daarvolgens begin aanpas.
“Boere dra kennis van die risiko’s en sal voorsorg begin tref waar moontlik,” sê Knobel.
Een van die belangrikste aanpassings wat oorweeg kan word, is die vervroeging van plantdatums. Knobel sê vinniger kultivars van gewasse soos mielies en sojabone kan vroeër geplant word om die risiko van hitte- en vogstremming gedurende kritieke groeistadia te verminder. Die normale mid-somerdroogte kom tradisioneel teen die einde van Januarie en begin Februarie voor, en vroeër aanplantings kan help om die gewasse beter met beskikbare grondvog te beheer.
“Die grootste aanpassing wat produsente kan maak, is om hul kultivarkeuses en plantdatums te hersien. Buiten dit is daar min wat gedoen kan word om die weer te beïnvloed,” sê Knobel.
Hy wys verder daarop dat sojabone oor die algemeen beter by wisselende klimaatstoestande kan aanpas, terwyl mielies meer kwesbaar vir hitte- en vogstres bly.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het onlangs aangedui dat toestande gunstig raak vir die ontwikkeling van ’n El Niño-verskynsel wat die somerreënvalgebiede kan beïnvloed.
Volgens Johan van den Berg, onafhanklike weervoorspeller van Bloemfontein, bestaan daar steeds die moontlikheid van bogemiddelde reënval gedurende die lente. Hy waarsku egter dat droër en warmer toestande vanaf November kan ontwikkel indien die El Niño-stelsel verder versterk.
LEES OOK: How a super El Niño could trigger global famine
Van den Berg meen die goeie grondvogvlakke wat nou in groot dele van die somerreënvalgebied voorkom, kan as ’n belangrike buffer dien en die uitwerking van moontlike droër toestande gedeeltelik versag.
TLU SA doen intussen ’n beroep op produsente om nie die waarskuwing ligtelik op te neem nie. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê boere behoort die nuwe seisoen met ’n konserwatiewe benadering te beplan en hul produksie- en finansiële strategieë betyds te herevalueer.
Produsente moet seker maak dat elke besluit daarop gemik is om risiko te beperk en winsgewendheid te beskerm. In onseker tye is dit belangriker om volhoubaar te produseer as om onnodige risiko’s na te jaag.
Hy raai produsente aan om insetkoste en bemestingsprogramme noukeurig te bereken, kontantvloei streng te bestuur en eerder vir optimale winsgewendheid as rekordoeste te beplan. Volgens Van Zyl beteken El Niño nie noodwendig dat alle gebiede droogte sal ervaar nie, aangesien die verspreiding van reënval uiteindelik ’n bepalende rol sal speel.
“Suid-Afrikaanse boere het oor dekades bewys dat hulle uitdagende klimaatstoestande kan oorleef deur deeglike beplanning, verantwoordelike bestuur en aanpasbaarheid toe te pas. Die boodskap is om realisties te beplan, finansiële dissipline toe te pas en nie moed te verloor nie,” sê Van Zyl.
LEES OOK: World braces for potentially strongest El Niño op record as ocean temperatures soar






