Dr. Pierre Edwards
Dr. Pierre Edwards. FOTO: Niël Langner

Hoewel kunsmatige intelligensie (KI) die gonswoord van ons tyd is en op elke denkbare terrein ingespan word – van akademiese navorsing tot kuns, kommunikasie en musiek – sal KI nie in die volgende geslag of twee die skoene van die historikus kan vol staan nie.

Só meen dr. Pierre Edwards, historikus en navorser, wat vroeër in Maart die gasspreker by die Erfenisstigting se 17de Moerdyk-gedenklesing in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument was.

Edwards het die tema “Die onsigbare argief: Hoekom kunsmatige intelligensie nie ons geskiedenis heeltemal kan vertel nie – ’n besinning oor gedigitaliseerde bronne en die onmisbare rol van die historikus” krities onder die loep geneem en die moontlikhede en beperkings van KI in die verstaan en vertolking van die verlede verken.

“Hoewel KI patrone kan identifiseer en groot hoeveelhede data blitsvinnig kan verwerk, bly die interpretasie van historiese bronne ’n menslike proses wat konteks, empatie en kritiese oordeel vereis. Dit is gevaarlik om te dink dat dít wat digitaal beskikbaar is, die volle verhaal is.

KI sal altyd ’n antwoord hê, maar of dié antwoord betroubaar is, is te betwyfel, veral in die konteks van historiese feite en gebeure.

“Dit is vanweë die feit dat slegs ’n deel van die geskiedenis al gedigitaliseer is. Kritieke bronne soos persoonlike briewe, foto’s, familie-argiewe, mondelinge oorlewerings en plaaslike versamelings leef steeds buite die digitale wêreld.”

Erfenisstigting
Dr. Pierre Edwards, historikus en navorser; Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting en Dawid Brand, die Kultuurtuiste se bedryfshoof van media en bemarking tydens die 17de Moerdyk-gedenklesing in die Senotaafsaal. FOTO: Niël Langner

Volgens Edwards is dié bronne ’n onsigbare argief wat geen algoritme kan naspeur nie. Nie net het KI nie toegang tot voldoende digitale bronne nie, maar kan die vraag ook gevra word of tegnologie sonder menslike vertolking ’n bron werklik kan verstaan.

Historikus het unieke rol

“ ’n Dokument is nooit net ’n stel woorde nie. Dit dra emosie, omstandighede en menslike ervaring. Om ’n bron te verstaan, vereis dat ons vra waarom dit geskryf is, wie dit geskryf het en wat moontlik ongesê gebly het. Hierdie dimensie kan nie deur ’n masjien verreken word nie.”

Edwards het sy argument onder meer aan die hand van navorsing oor die Kruger-miljoene toegelig en drastiese verskille uitgewys tussen oorspronklike foto’s en dokumente, en die interpretasie deur KI-stelsels. Nie net slaan dié bronne hardnekkige gerugte oor dié geld en goud wat gereeld opduik die nek in nie, maar Edwards het telkens die KI-antwoorde met feite uit historiese bronne weerlê.

Hy noem voorts dat KI kan help om vinniger deur ’n digitale argief te blaai, maar dit is die historikus wat betekenis aan ’n verhaal gee. “Terwyl groot dele van die geskiedenis nog buite die kuberruim leef, kan KI-inligting nooit as 100% betroubaar of gesaghebbend gereken word nie.”

LEES OOK: Reinet-pop leef voort ondanks Graaff-Reinet naampolemiek

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article