KROONSTAD – Die afgelope Saterdag, 14 Maart, het die Hoërskool Trio van Kroonstad verlede jaar se rugbywenners van die Wesgrow-reeks – Hoërskool Diamantveld – op hul tuisveld ontvang.
Behalwe rugbywedstryde het kragmetings tussen netbal- en hokkiespanne van dié twee skole ook plaasgevind.
Die hoogtepunt van die dag was die rugbywedstryd tussen die eerstespanne, wat die toeskouers op die punt van hul stoele gehou het. Trio het vroeg in die wedstryd ’n gemaklike voorsprong opgebou en die voortou met punte geneem.
Ná rustyd het Diamantveld egter sterk teruggeveg en die momentum oorgeneem. Met slegs ’n paar minute oor, het Diamantveld daarin geslaag om op die telbord voor te loop.
Trio het egter nie tou opgegooi nie. In die doodsnikke van die wedstryd het hulle een laaste poging aangewend, deur die verdediging gebreek en onder die pale gaan druk.
Met ’n suksesvolle doelskop het Trio die wedstryd met ’n naelskraapse oorwinning van 41–40 beklink.

Diamantveld se tweede en derde rugbyspanne het egter as oorwinnaars van die veld gestap, met onderskeidelik 21-12 en 43-7 in hul segetog. Nog rugbyspanne van Diamantveld wat die stryd teen Trio gewen het, is die 14B-, 14C-, 15B, 16A-, en 16B-spanne.
In die netbalwedstryde het Diamantveld die oorhand gehad en die eerstespan het met 28-27 gewen. Diamantveld se tweede netbalspan het met 24-5 gewen, en ook die 14A-, 14B-, 14C-,15A-, 15B-,16A- en 16B-netbalspanne het oorwinnings behaal.
Op die astrohokkiebane het Trio ‘n groot oorwinning behaal met ses van ses wedstryde wat gewen is.
LEES OOK: WESGROW SENTRALE SKOLE SPORTREEKS | Tradisie, trots ontmoet
- Diamantveld se volgende kragmeting in die Wesgrow-reeks is Saterdag 21 Maart wanneer hulle teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool in Kimberley te staan kom.
- Lede van die publiek is welkom om die wedstryde saam met die skoolgemeenskap by te woon.















You must be logged in to post a comment.