’n Hooggeregshofstryd oor beweerde doodsdreigemente en intimidasie het ’n nuwe wending geneem nadat ’n regter op 12 Maart beslis het dat tegniese selfoondata nie op papier alleen besleg kan word nie en dat mondelings getuienis in ʼn verhoor aangehoor moet word.
Die saak, wat voor regter G. Da Silva Salie in die hooggeregshof in Kaapstad gedien het, spruit uit ’n dringende interdik wat op 19 Desember 2025 toegestaan is teen Morné van Vuuren.
Die aansoekers, Olof Abraham Joubert (’n prokureur) en Chandré Goosen, beweer dat Van Vuuren hulle geteister het met SMS’e waarin hulle en hul minderjarige seun met die dood dreig word.
Die geskil hou verband met ’n vroeëre werksverhouding waar Van Vuuren vir Joubert gewerk het. Dié verhouding het in April 2025 ná ’n arbeidskonflik tot ’n einde gekom. Volgens die aansoekers het die dreigboodskappe maande later begin. Hulle was so vreesbevange dat hulle ’n private sekuriteitsfirma teen groot onkoste moes aanstel.
Van Vuuren ontken dat hy die boodskappe gestuur het en voer aan dat hy in Pretoria woon, terwyl die selfoonnommer wat gebruik is, hoofsaaklik in die Wes-Kaap aktief was.
Om sy onskuld te bewys, het hy ’n verslag van ’n private ondersoeker, Wendy Pascoe, ingedien. Die verslag ontleed selfoonstate en suggereer selfs dat die aansoekers na bewering self die boodskappe aan hulself gestuur het.
Hy het ook verwys na ’n berig op Netwerk24 oor Goosen se “oormatige besteding op SMS-inskrywings” vir ʼn kompetisie tydens die 2021 Mev. Suid-Afrika-kompetisie om haar geloofwaardigheid te bevraagteken.
Regter Da Silva Salie het bevind dat die interpretasie van die tegniese selfoondata en die betroubaarheid van die ondersoeker se metodologie nie bloot deur beëdigde verklarings opgelos kan word nie.
Die hof het die beveel dat die saak verwys word vir die aanhoor van mondelinge getuienis. Daar moet vasgestel word of Van Vuuren die betrokke nommer beheer het en hoe die selfoondata vertolk moet word. Sowel Joubert as Van Vuuren moet persoonlik in die hof getuig. Die interdik (rule nisi) teen Van Vuuren bly van krag totdat die saak finaal afgehandel is.
Die dreigboodskappe het heeltemal opgehou sedert die aanvanklike interdik in Desember toegestaan is.





