Appèlhof dwing munisipaliteit om AfriForum se regskoste te betaal ná waterkrisis-stryd

Munisipaliteit moet AfriForum se regskoste betaal.
Die langdurige regstryd oor vuil drinkwater in Parys en omliggende gebiede draai in Appèlhof. FOTO: getaway.co.za

Die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein het op 13 Maart beslis dat die Ngwathe plaaslike munisipaliteit die regskoste van die burgerregte-organisasie AfriForum moet betaal ná ’n langdurige regstryd oor vuil drinkwater in Parys en omliggende gebiede.

In dié ongewone uitspraak is ʼn vroeëre hofbevel en ʼn bevinding van ʼn volbank regters tersyde gestel.

Dit bring ’n einde aan ’n geskil oor wie verantwoordelik is vir die koste van litigasie wanneer burgers hul grondwetlike regte teen die staat verdedig.

Die saak spruit uit ’n dringende aansoek wat AfriForum in September 2022 namens inwoners van die munisipaliteit gebring het.

LEES OOK: | Al meer krane droog: ‘Los watervoorsiening vir ingenieurs, nie vir politici’

Inwoners moes onveilige, stinkende drinkwater wat baie mense siek gemaak het, verduur. Onafhanklike laboratoriumtoetse het getoon die water het hoë vlakke van E.coli en ander bakterieë bevat, wat die nasionale standaarde vir drinkwater oorskry het.

Hoewel die hooggeregshof in Bloemfontein aanvanklik die saak van die rol verwyder het weens ’n gebrek aan dringendheid en AfriForum beveel het om die munisipaliteit se koste te betaal, is dié besluit later deur ’n volbank regters tersyde gestel.

Die volbank het beslis dat elke party sy eie koste moet dra omdat die munisipaliteit volgens hulle “nie kwalik geneem kon word” dat hulle die aansoek teengestaan het nie.

Regter P. Meyer, met die instemming van vier ander appèlregters, het bevind die volbank het fouteer deur nie die sogenaamde Biowatch-beginsel korrek toe te pas nie.

Volgens dié regsbeginsel moet die staat gewoonlik die regskoste betaal as ’n private party suksesvol ’n grondwetlike reg,  soos die reg op skoon water, teen die regering afdwing.

Die Appèlhof het bevind AfriForum het nie ter kwader trou opgetree nie en dat die litigasie nie beuselagtig was nie. Die feit dat die munisipaliteit grondige redes gehad het om die saak teen te staan, stel nie die staat vry van die verpligting om die suksesvolle party se koste te betaal nie. Die munisipaliteit se versuim om skoon water te verskaf was die kern van die aansoek. AfriForum het bloot opgetree om inwoners se regte te beskerm.

Hoewel die hof in die guns van AfriForum beslis het, het die regter geweier om die koste van twee advokate toe te staan.

Die hof het bevind dat die saak nie feitelik of regstegnies kompleks genoeg was nie en dat AfriForum verkies het om op ’n “luukse skaal” te litigeer waar die dienste van een advokaat voldoende sou gewees het.

Die Ngwathe munisipaliteit en die waarnemende munisipale bestuurder is beveel om die koste van die appèl asook die koste van die verrigtinge voor die volbank te betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article