Die niggie van die vrou wat deur haar lewensmaat in hul huis in Hopetown vermoor is, het Woensdag huilend in die hooggeregshof in Kimberley getuig hoe die oorledene se seun wat sy nou versorg, nagmerries kry en vertel hoe hy sy ma mis.
Johanna Badula wat geen kinders van haar eie het nie, maar na die oorledene se seun en vier van haar minderjarige susterskinders omsien, het getuig hoe die 11-jarige seun sommige nagte nie kan slaap nie en so hard skreeu wanneer hy nagmerries kry, dat almal in die huis wakker word.
Sy het getuig ter strafverswaring van Salmon Kammies (42) van Hopetown wat reeds skuldig bevind is dat hy Lizel Louw op die nag van 2 Mei 2024 aangerand het, met sy stewels geskop en met ʼn stuk draad aangerand waarna hy haar geslagsdeel gepenetreer het terwyl sy sterwend of reeds dood was.
Hy is vroeër vandeesweek deur adjunkregterpresident Violet Phatsoane van aanranding met die doel om Lizel Louw ernstig te beseer, haar moord en in die alternatief van seksuele handelinge met ʼn lyk skuldig bevind.
LEES OOK: Staat voer aan man het sy lewensmaat vermoor, lyk seksueel geskend
Badula het vertel dat die seun ná sy ma se moord eerste by ʼn tante gebly het, maar die tante het hom glo verwaarloos en het gedrink.
“Sy is baie ongeskik met my.”
Die plaaslike maatskaplike werkers het haar gevra of sy na die seun sal omsien, en sy het ingestem. Sedert Augustus verlede jaar versorg sy die seun by haar huis
Sy is werkloos en steun op haar ma, en susterskinders se maatskaplike toelae om vir almal insluitend die seun, te versorg.
“Sy tante gee my nou en dan ‘n deeltjie van die maatskaplike toelae wat sy kry om na die seun om te sien.”
Badula kan eers die seun se toelae kry wanneer die Kinderhof ʼn bevel uitreik.
“Hy kan nie slaap nie, en kry erge nagmerries. Hy gaan aan die skreeu en storm by die huis uit. As hy só raak, neem ek hom na die kamer om hom te troos. Maar hy kan nie praat oor wat in sy binneste aangaan nie, hy vertel net dat hy sy ma mis en hoe hy van haar droom. Hy is baie afgetrokke en loop net weg as ek sê hy moet praat oor dit wat hom pla. Soms los ek hom maar.
“Toe hy vandeesweek die polisievoertuig by ons huis sien, het hy weer ʼn toeval gehad.
“Ek sukkel soms om hom by die skool te kry ween sy emosionele trauma. Ek het al vir die maatskaplike werkers gevra of hulle nie sielkundige hulp vir hom kan kry, maar niks het nog gebeur nie. Die een werker het ook bedank, en niemand is nog in haar plek aangestel nie.”
Die seun se pa wat ook in Hopetown is nie by die seun betrokke nie, en betaal ook nie onderhoud nie.
Die getuie het so emosioneel geraak dat die hof vir ʼn wyle verdaag is.
Adv. Anel Stellenberg, aanklaer, het vroeër aangevoer Louw se seun het getuig dat die paartjie vroeër die aand by hul huis in Sonneblomstraat gedrink het. Later die aand het hy bevrees aanskou hoe sy ma deur Kammies met sy stewels aanhoudend geskop is. Later het hy haar met ʼn stuk bloudraad geslaan en water oor haar uitgegooi. Sy ma het nie weerstand gebied nie, en Kammies het die seun aangesê om te gaan slaap. Die seun se getuienis het gestrook met die beserings aan sy ma se kop, lyf en bene. Die seun het die gebeure vanuit sy kamer en die kombuis gadegeslaan. Later het hy sy ma op die bed gehelp.
Later die nag het Kammies na sy suster en dié se man, Marie en Gert Williams, se huis gegaan om te sê hy en Louw het ʼn rusie gehad en hy het homself met ʼn draad “verdedig omdat sy hom met ʼn mes wou steek”. Kammies het teenoor polisielede erken hy het ʼn draad gebruik “ter selfverdediging”.
Hannes Rust het vir Kammies opgetree.
Phatsoane het die verhoor tot 18 Maart uitgestel.



