GRAAFF-REINET – “Wanneer ’n dorp, ’n straat, ’n rivier sy naam verloor, gaan ’n stuk geskiedenis verlore. Meer nog word die stories wat agter die naam skuil, gesmoor.” Só sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Erfenisstigting, oor die beplande naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe.
Dit is slegs een van 21 naamsveranderinge wat in die Staatskoerant gepubliseer is en kom ná meer as 1 500 geografiese naamsveranderings wat reeds sedert 1994 ingestel is.
“Min dinge lê so swaar op ’n gemeenskap se hart as wanneer ’n plek sy naam verloor. Nie omdat die naam of grond heilig is nie, maar omdat ’n naam ’n storiedraer is – van herinnerings, mense, opoffering en drome. Dit is nie net ’n administratiewe besluit nie, maar ’n streep deur die geskiedenis en identiteit van ’n gemeenskap,” sê Langner.
Graaff-Reinet is die sesde oudste dorp in Suid-Afrika en die oudste in die Oos-Kaap. Oor die afgelope 240 jaar is dié dorp, vernoem na goewerneur Cornelis Jacob van de Graaff en sy vrou, Reynet, met die identiteit van die Karoo verweef. Tussen die Sondagsrivier en die Sneeuberge staan meer as 200 historiese geboue, wat dié dorp ’n unieke erfenisskatkis maak.
“Hier het boere teen koloniale owerhede in opstand gekom en Voortrekkerleiers soos Sarel Cilliers, Gerrit Maritz en Andries Pretorius wortels gehad. Hier het gemeenskappe gebou, gebid en geworstel om in die harde Karoo-landskap te oorleef.”

Historiese geheue bewaar
Terwyl ministers uit moedswilligheid of vir politieke punte borde letterlik links en regs verhang en geskiedenisuitwissing stoomroller, is daar organisasies soos die Erfenisstigting (ES) wat stilweg en sonder staatshulp werk om Suid-Afrika se erfenis te bewaar.
“Die ES werk onverpoos om ons historiese geheue behoue te laat bly. Die Reinet-pop is een van 4 000 onvervangbare stukke – elk met ’n unieke storie – wat deur die ES bewaar word,” sê Langner.
Dié besonderse pop is die nuutste voorwerp wat met behulp van moderne tegnologie deur die ES tot lewe gebring word as deel van die “Liewe voorwerp”-projek. Met dié projek word
historiese voorwerpe in 3D geskandeer en die verhaal van die voorwerp vertel. Die resultaat is ’n lewende argief wat toeganklik is vir leerders, navorsers en geskiedenisgeesdriftiges.
“Dis tegnologie met ’n siel – van ’n bloedbevlekte Voortrekkerkappie tot ’n voorlaaiergeweer leef voort danksy die presisie van ’n kurator en die stem van ’n aktrise. Dis ’n tydsame proses, maar die waarde is onmeetbaar,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die ES.
LEES OOK: AfriForum stuur prokureursbrief aan minister met beswaar teen Graaff-Reinet se naamsverandering
Die pop van Graaff-Reinet
Die aangrypende storie van die Reinet-pop se oorsprong lê in Graaff-Reinet. Dit was 1916 en die wêreld in die wurggreep van die Eerste Wêreldoorlog. Ook in Suid-Afrika was die gevolge tasbaar. Ingevoerde produkte was skaars, en speelgoed uit Europa – veral die porseleinpoppe waaroor elke meisies gedroom het – het van winkelrakke verdwyn.
In Donkinstraat 16 in Graaff-Reinet het die kunstige Anne Laubscher saam met haar ouers gewoon. Toe haar sesjarige niggie, Marie Smit, hartseer was omdat die pop wat sy begeer het nie vir Kersfees opgedaag het nie, het Laubscher besluit om self een te maak.
Sy het die kop, lyf en ledemate uit linne gesny en haar ma het die stukke versigtig aanmekaar gestik. Pa Jurie Laubscher het die plan bedink om die arms en bene met skarniere te heg sodat hulle kon beweeg. Die pop is in ligrooi inkwater gedoop om dit ’n sagte, natuurlike kleur te gee en die lyfie met saagsels opgestop. Elke pop het ’n unieke engelagtige gesiggie gekry.
Haar pa het leerskoentjies met perlemoenknoppies en enkelbandjies gemaak, terwyl haar ma vir ’n hoepelrok, kappies en ’n voorskootjie gesorg het. Toe Marie uiteindelik die pop kry, was sy in ekstase. Wat gevolg het, was iets wat niemand kon voorspel het nie.

Fabriek gebore uit liefde
Die nuus van die pop het soos ’n veldbrand deur Graaff-Reinet versprei en kort voor lank wou elke kind een hê.
Bestellings het van reg oor die land en selfs Namibië, Zimbabwe en Kenia ingestroom. In ’n tyd van ekonomiese swaarkry het dié nederige popprojek werkgeleenthede vir 50 vroue in die gemeenskap geskep. Die mans het gehelp om die poppe op te stop, terwyl die seuns ná skool die linneledemate in kleurstof gedoop het.
Die poppe was sowat 38 cm lank. Hul arms en bene kon beweeg, hul klere kon aan- en uitgetrek word, en hulle kon selfs regop sit. Eindelik is tot 200 poppe per week met die hand vervaardig. Jurie Laubscher het ’n gebou opgerig en met trots ’n bord op die gewel vertoon: GRAAFF-REINET POPPENFABRIEK.
Identiteit ook tóé onder skoot
Tog het hierdie suksesverhaal ook sy uitdagings gehad. Die fabriek is in ’n stadium deur plaaslike ondernemings geboikot nadat Laubscher ’n monument vir die militêre leier en
Anglo-Boereoorlog-held Gideon Scheepers in sy tuin opgerig het. Later het inspekteurs druk begin uitoefen met klagtes oor lone, ruskamers en kinderarbeid. Terselfdertyd het ander vervaardigers goedkoper, swakker poppe begin maak.
Toe die oorlog eindig, het ingevoerde poppe die winkels oorstroom. In 1927 het Laubscher die moeilike besluit geneem om die fabriek te sluit. Die rye naaimasjiene het stil geword. Die Reinet-pop het uit die winkels verdwyn – maar nie uit die gemeenskap se geheue nie.
“Erfenis soos dié word nie in museums gebore nie – dit word in gemeenskappe gebou,” sê Langner. “Wanneer die verlede met respek bewaar word, word ’n land se toekoms versterk. Geen naamsverandering sal ons werk stuit of ons stories smoor nie. Buitengewone verhale skuil dikwels in klein voorwerpe. Soos ’n pop.”






You must be logged in to post a comment.