KAAPSTAD – Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, het formele uitsettingsprosesse teen drie voormalige uMkhonto we Sizwe (MK)-lede van die parlement gemagtig.
Die oud-politici beset glo steeds eiendomme in die Parlementêre dorp in Kaapstad ondanks dat hulle reeds in Augustus 2024 uit die Parlement verwyder is.
Volgens die departement het die Staatsprokureur verlede Vrydag kennisgewings aan die betrokke persone beteken om die wonings te ontruim. Nadat hulle versuim het om gehoor te gee aan die spertyd, het Macpherson opdrag gegee dat daar met regstappe in die hof voortgegaan word, wat ook ’n kostebevel teen die oud-LPs insluit.
Minister Macpherson sê in ’n verklaring die oppergesag van die reg geld vir almal en dat staatseiendom nie onwettig beset mag word nie. Die optrede strook met soortgelyke sake wat hy sedert sy aanstelling hanteer het, insluitend uitsettings by Wingfield in Kaapstad en op landbougrond naby Oos-Londen.
“As ’n land wat die oppergesag van die reg respekteer, kan ons nie toelaat dat sekere individue bo die reg verhewe is en staatseiendom onwettig okkupeer nie.”
Die minister is bekommerd dat sy departement in die middel van interne politieke geskille geplaas word.
“Die politieke partye het hul lede se lidmaatskap beëindig, maar die departement kan nie by hierdie geveg betrek word nie.
“Ons verantwoordelikheid is teenoor die Suid-Afrikaanse publiek en om staatseiendom tot hul voordeel te beskerm,” lui die verklaring.
Die wonings is tans nodig vir gebruik deur huidige LPs en amptenare.
Volgens die verklaring gaan die formele uitsettingsproses spoedig begin. Die betrokkenes sal aanspreeklikheid moet aanvaar vir die opknapping van die huise.
Hulle bly steeds ontvanklik vir mediasie met die voormalige parlementslede om ’n “vreedsame hervestiging” te verseker.





