KAAPSTAD – Die Stad Kaapstad het Donderdag 26 Februarie begin om sluitbare dreindeksels in Wesbank naby Kuilsrivier in te sit as deel van ‘n nuwe projek.
Die woonbuurt gaan lank reeds gebuk onder dreine wat gereeld oorstroom – grotendeels weens misbruik van en rommelstorting in die rioolstelsel.

Ebrahim Sawant, wyksraadslid sê hy het reeds in Mei 2024 met die burgemeester, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie en senior amptenare van die Stad in Wesbank vergader nadat hulle ondersoek kom in stel het na die rioolstelselprobleme in die buurt.
“Tydens hierdie vergadering is ‘n plan van aksie bespreek om hierdie historiese probleem op te los,” sê Sawant. “Nadat die ingenieurs en ander beamptes van die department ‘n behoorlike in-diepte studie gedoen het, het die burgemeester besluit om geld in toekomstige begrotings van die Stad aan sluitbare dreindeksels en ‘n pypvervangings-program toe te wys.”
Pype
In Wesbank sal altesaam 76 dreindeksels met die nuwe sluitbare weergawes vervang word en in Kalkfontein 20.
“Die pypvervanging sal binne enkele weke volg en sal gedoen word langs die lengte van Wesbank se Hoofweg af, van die Stellenbosch-hoofverkeersweg tot by Hindleweg,” sê Sawant.
“Terselfdertyd word die Rietvlei-pompstasie opgradeer, want as dit nie behoorlik werk nie veroorsaak dit dat riool oorvloei in Highbury, Kalkfontein en Riverside Gardens.”
Groot probleem
Sawant is trots daarop dat die projek in Wesbank kan begin. “Vandag is ‘n goeie dag vir die inwoners.”
Jennifer van Rooyen, ‘n inwoner van Flowerstraat waar een van die eerste sluitbare deksels gister ingesit is, stem volhartig saam. Sy is vol lof vir Sawant wat sy sê gereeld daar was as die dreine oorstroom het.
“As die trokke kom (om die water weg te pomp) dan is daai man hier, dan kyk hy hoe hulle werk. Hy het gesê dit (die vervangings) gaan gebeur en dit het gebeur. Die raadslid doen wat hy kan, hy maak nie net beloftes nie.”
Van Rooyen was ook bly om die burgemeester Geordin Hill-Lewis gister vir ‘n tweede keer te sien en sy hand te kon skud.
Haar eiendom was van die wat die ergste deurgeloop het. “Ek het die grootste probleem gehad as die dreine oorloop dan staan die damme hier voor my deur. Dit was tot in my plek gewees. Ek het hulle gewys watter probleem ek het, met die vlieë. Ek kon nie meer nie.”

Sy is bewus daarvan dat mense goed in die dreine stort. “Dit is waar, hier is te veel hokkies hier by ons—daar kom die probleem in. Mense gooi goed hier in die dreine (en) dan blameer hulle die Stad.”






You must be logged in to post a comment.