HOOPSTAD – Reeds in 2024 het Sulandri Kotzé besluit dat sy solank wil begin spaar om vir haarself ‘n voertuig aan te skaf wanneer sy in 2026 in matriek is, en ook om haar ouers geldelik by te staan wanneer haar voornemende studies ná matriek vir hulle ‘n uitgawe word.
Te danke aan ‘n groeiende grafskoonmaak-onderneming wat sy begin het, is die aanskaf van ‘n voertuig later vanjaar – wanneer dié matriekleerling aan die Hoërskool Hoopstad in die Vrystaat 18 jaar oud word – binne sig.
Sulandri vertel toe sy in Junie 2024 haar ouers van haar plan vertel het om grafte skoon te maak, was hulle redelik skepties. Saam het hulle egter inligting begin inwin oor die lewensvatbaarheid daarvan om grafte teen betaling skoon te maak, en is haar aanbod gedurende Julie op haar, en haar ouers – Dirk en Andri Kotzé – se Facebook-blaaie bekend gestel.
Reeds in Augustus het Sulandri vyf grafte gekry om skoon te maak.
“Daarna het ons ‘before’ en ‘after’ foto’s van die vyf grafte op Facebook geplaas – en dit is waar my onderneming lewe gekry en die hoogte in geskiet het,” vertel sy.
Tans het Sulandri en haar span ‘n ooreenkoms om 75 grafte skoon te maak, met ruimte in die rooster om die skoonmaak van nóg grafte aan te pak. Dienste wat gelewer word sluit skoffel rondom die graf in, spuit van onkruiddoder, en die was van grafstene twee keer ‘n maand.
Waarom grafte skoonmaak?
“Hoekom grafte skoonmaak, sal baie mense vra. Ek wil mense help waar ek kan. Baie van dié wie se geliefdes in die Hoopstad-begraafplaas tot ruste gelê is, bly nie meer in die dorp of omgewing nie. Van my kliënte woon selfs in die buiteland.
“Mense kry nie die geleentheid om hul oorlede geliefdes se laaste rusplekkie te besoek nie, wat nog te sê skoonmaak,” sê Sulandri.




Grafte word volgens ‘n vaste skedule skoongemaak, en weens veiligheidsredes werk Sulandri nooit alleen nie. Die skedule word gewoonlik opgestel volgens die rooster wanneer haar pa elke tweede naweek – as hoof van die gemeenskapsdienskantoor van Korrektiewe Dienste in Hoopstad – nie aan diens is nie.
“Ek maak op my pa se teenwoordigheid staat vir veiligheid,” sê sy en vertel dat in die 18 maande wat hulle reeds by die begraafplaas werk, nog nie een keer ‘n veiligheidsrisiko beleef het nie.
Hitte, koue, stof deel van uitdaging
Ondraaglike hitte in die somer – waar die son boonop die grafstene vuurwarm bak – is ‘n uitdaging tydens so ‘n skoonmaaksessie.
“In die winter is dit weer ongelooflik koud by die begraafplaas met baie stof as die Vrystaatse winde begin waai.”
Die vaste span bestaan uit haarself, haar pa wat haar projekbestuurder is, en twee helpers. Wanneer hulle die kans het, help haar ma, asook ouma Gloudie Kotzé en Sulandri se kêrel, Pieter Prinsloo, om die onderneming vlot te laat verloop.
Omdat Sulandri tans op haar matriekjaar fokus, kry sy nie soveel geleentheid soos voorheen om self ‘n graaf of hark nader te trek nie – iets wat sy nie huiwer om te doen wanneer die geleentheid homself voordoen nie.

Sulandri se toekomsplanne is om vanaf volgende jaar verpleegkunde deur MediClinic te studeer, met haar onderneming wat sal voortgaan om vir haar studies te help betaal.
- Sy gebruik haar en haar ouers se Facebook-blaaie, dié van Hoopstad Gemeenskap, en ook Instagram en WhatsApp-statusse om die dienste te adverteer. Skakel 060 982 0323 vir meer inligting.
LEES OOK: Jong boervrou deel liefde vir blomme wyd en oorvloedig, soos armsvol ruikers






You must be logged in to post a comment.