Tralies was gevaarlik op die aanval na die afrigters 'n paar verstellings gemaak het.
Tralies was gevaarlik op die aanval na die afrigters ‘n paar verstellings gemaak het.

Negentien punte agter en teen die toue? Geen probleem vir Hoërskool Sentraal nie. Tralies het Saterdag 28 Februarie met ‘n sensasionele terugslag-oorwinning van 52-43 oor Lichtenburg geseëvier in ‘n wedstryd wat 15 drieë opgelewer het en die neutrale toeskouers op hulle voete gehad het.

In die eerste 10 minute het dit gelyk asof Liggies gereed was om ‘n stelling te maak. Hulle het sonder genade op Sentraal se vroeë foute gekapitaliseer en binne ‘n oogwink was die tellbord op 19-0. Maar soos die gesegde lui, dis nie hoe jy begin nie, dis hoe jy klaarmaak.

“Die seuns het mooi terug gekom. Hulle het ons onder druk gesit met opskuit verdediging. Ons kon halftyd planne maak en was baie beter op die aanval. Ons het so paar drieë op die veld gelos met hanteerfoute, maar dit was die eerste wedstryd van die seisoen,” het Rohan Erasmus, afrigter van Tralies se 1ste XV, gesê.

Die halftyd-samespreking het gewerk. Sentraal het met hernieude fokus uitgestorm en begin om Lichtenburg se verdediging sistematies af te breek.

Vir Lichtenburg se hoofafrigter Michael Bondesio was die beperkte voorbereidingstyd duidelik sigbaar, veral toe sy span se verdediging begin bars het. Maar hy het steeds positiewe punte uitgehaal.

“Ons het nog ‘n jong span maar ek is beïndruk met ons aanvallende spel. Ons het sewe drieë teen agt gedruk,” het Bondesio gesê.

Dit was ‘n wedstryd waar aanval die beste vorm van verdediging was. Vyftien drieë in totaal het die toeskouers op hulle voete gehad, met spelers van beide kante wat die bal in die hand gevat het en gevaarlik gespeel het.

Karabelo Kgamanyane en Waylon Savage het uitstekende wedstryde vir die Noordwesters gehad en gewys daar is definitief talent in die geledere. Hulle aanvallende spel was skerp en gevaarlik, maar uiteindelik was Sentraal se tweede helfte-dominansie te veel om te hanteer.

Sentraal het nou ‘n groot uitdaging wat wag wanneer hulle teen Wesvalia uitdraf, terwyl Lichtenburg hulle NWU-prestige reeks veldtog op 7 Maart teen Marais Viljoen afskop. Bondesio sal definitief daardie verdediging opskerp voor die prestige-stryd begin.

Vir Tralies bewys die oorwinning dat karakter en veerkragtigheid soms belangriker is as ‘n perfekte begin. Negentien punte agter was net die motivering wat hulle nodig gehad het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article