Bainskloofpas
‘n Vragmotor het skade aan Bainskloofpas gerig. Foto: Verskaf

WELLINGTON – ‘n Vragmotorongeluk het weer onlangs op die Bainskloofpas gebeur waar wesenlike skade aan die infrastruktuur op die pas aangemeld is. Dié keer het die vragmotor immers sukkel-sukkel deur die pas aangery, maar die bestuurder het nie die ongeluk aangemeld nie en is dus nie aangekeer nie.

Volgens Stephan Landsberg, ‘n VF Plus-raadslid in die Drakenstein-munisipaliteit (DM) en wat hom beywer met die beveiliging van die pas deur plaaslike munisipaliteite verantwoordbaar te hou en dit reeds na provinsiale valk geëskaleer het, het die voorval net ná middernag op 20 Februarie plaasgevind.

Landsberg het gesê die vermoede is dat die vragmotor te wyd vir die pas was en gevolglik op sekere plekke in die pas vasgesit en infrastruktuur beskadig het.

Bainskloofpas
‘n Brug is ook op die pas beskadig. Foto: Verskaf

Op foto’s kan gesien word hoe die vragmotor ‘n brug beskadig het, asook ‘n gedeelte van die klipmuur – op plekke só erg dat die vragmotor se allooiwieldoppe gebreek het.

Die koerant het navrae aan die Wellington-polisie gerig, maar volgens kol. Johan Barkhuizen, die stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, is geen sake aangemeld nie.

’n Paar dae tevore het twee toerbusse glo ook die roete gebruik en deur die Preekstoel-gebied beweeg. Daarna is rommel en drankbottels in die omgewing aangetref, volgens kol. Barkhuizen.

Landsberg voer aan dat belastingbetalers telkens die koste van herstelwerk moet dra terwyl oortreders min of geen gevolge in die gesig staar nie.

Bainskloofpas
Die vragmotor se allooi wieldoppe is beskadig. Foto: Verskaf

Landsberg het in ‘n verklaring gesê verskeie VF Plus-mosies is reeds sedert Oktober verlede jaar by die DM se raad ingedien waarin optrede en terugvoer versoek is. Die mosies, wat in Oktober 2025, Desember 2025 en Januarie 2026 ter tafel gelê is, is volgens hom óf afgestem óf onbeantwoord gelaat.

Hy meen groot onduidelikheid heers oor watter owerheid vir die beskerming van die pas verantwoordelikheid moet neem. Hy het verwys na die DM, die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en die Wes-Kaapse provinsiale regering en gesê die gebrek aan gekoördineerde optrede lei tot verdere skade.

Tolhek

Die instelling van ’n tolstelsel soortgelyk aan dié van Chapman’s Peak Drive word reeds sedert 2017 bepleit. Volgens Landsberg is nog geen stappe deur die provinsiale regering gedoen om so ’n stelsel in te stel nie.

LEES OOK: Mobiliteitsdepartement waarsku teen misbruik van Bainskloofpas

Paarl Post het in Februarie verlede jaar oor die voorstel berig en geskryf dat die provinsiale departement van infrastruktuur nog geen planne opgestel het om ’n tolhek by die pas aan te bring nie. Indien ’n tolhek in die toekoms oorweeg word, sal dit ’n uitgebreide konsultasieproses verg, het die departement in sy terugvoer gesê.

Nasionale monument

Die Bainskloofpas, wat tussen 1849 en 1853 deur Andrew Geddes Bain gebou is, is ’n verklaarde nasionale monument. Die pas – nou sowat 173 jaar oud – was een van die eerste groot deurgange na die binneland en is oorspronklik vir ossewaens ontwerp, luidens die verklaring.

Die VF Plus het in die verklaring gesê hy sal voortgaan om druk op die owerhede uit te oefen vir doelgerigte oplossings en groter beskerming van die bergpas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article