TygerBurger

Goodwood-verpleegster tree ná 40-jaar se toegewyde diens af

Suster Viola Hartzenberg
Suster Viola Hartzenberg van die Goodwood-kliniek tree na byna vier dekades as verpleegster uit die bedryf.

Ná bykans vier dekades in die verpleegbedryf roep Suster Viola Harzenberg by die Goodwood-kliniek dit vanjaar uiteindelik halt.

Hartzenberg, ´n kliniese verpleegspraktisyn, het ´n lang pad in die verpleegbedryf gestap en kan met goeie gemoed terugkyk op ´n kleurryke loopbaan.

Sy het aan TygerBurger vertel hoe en wanneer die saadjie vir haar beroepskeuse geplant is.

Hartzenberg onthou hoe haar matriekjaar veral vir haar een van die moeilikste jare in haar lewe was.

“My pa is reeds in 1985 met kanker gediagnoseer, en elke dag ná skool moes ek aanskou hoe sy lewe stadig wegkwyn. Ek was desperaat, magteloos, maar ek het gehelp waar ek kon. Ongelukkig het hy die stryd verloor. Daardie tyd het iets diep binne my gevorm – van kleins af het ek ‘n liefde gehad om mense te help, en dit was die oomblik toe ek geweet het, ek wil ‘n verpleegster word,” vertel sy.

Vandag is Harzenberg ‘n kliniese verpleegspraktisyn met met twee diplomas en ‘n graad.

“As kliniese verpleegpraktisyn behels my pligte onder andere die onafhanklike assessering van pasiënte, die diagnose en behandeling van algemene en kroniese siektetoestande, die voorskryf van medikasie, wondversorging, noodbehandeling, gesondheidsvoorligting en die bestuur van pasiënte binne primêre-gesondheidsorg.

“Dit is ’n rol wat groot verantwoordelikheid, deernis en kliniese kundigheid vereis.”

Dis ‘n rol waarvoor sy egter ten volle voorberei is.

Haar agtergrond

Hartzenberg het vertel dat haar loopbaan op 1 Maart 1986 by die Conradie-hospitaal in Pinelands begin het.

“In 1989 is ek as stafverpleegster opgelei. Van daar het my pad my na Bishop Lavis geneem, waar ek vir 19 jaar gewerk het.

“Wondversorging was my passie, niemand kon dit beter doen nie. Ek was altyd nuuskierig, altyd gretig om meer te leer, en mettertyd het ek besef dat ek verder wou studeer,” vertel sy.

Haar studies het sy in 2003 voortgesit.

“Daardie jaar het ek as ‘n oorbruggingstudent by die Universiteit van KwaZulu-Natal begin studeer, en in 2005 het ek as professionele-verpleegster gekwalifiseer.

“Suster Hartzenberg was my nuwe titel, en ek het dié rol met alles binne my uitgeleef. My pasiënte was my alles,” sê sy.

Hartzenberg het daarna in die traume-afdeling begin werk.

“Een van die mooiste oomblikke was toe ‘n ma geboorte geskenk het aan haar baba, al was ons toe nog nie ‘n aangewese hospitaal nie.

“Alles het daar in die noodkamer gebeur.

“Ek het geleer om werklik met my pasiënte te werk. Baie van hulle wou net hê dat ek hulle moes sien, niemand anders nie. Daar was niks in verpleging wat ek nie kon doen nie.”

In 2016, toe as ‘n ma van vier kinders, het sy verder studeer en haar BTech-graad in Primêre Gesondheidsorg verwerf.

Die jaar daarna het sy as ‘n kliniese verpleegspratisyn begin werk waar sy daagliks tussen 30 en 40 pasiënte behandel het.

Uitdagings ervaar

Hartzenberg is ook uitgevra oor die uitdagings wat sy oor die 40 jaar in die gesig gestaar het.

“By Goodwood-kliniek het ons as verpleegpersoneel talle uitdagings in die gesig gestaar.

“Baie van ons pasiënte kom uit lae-inkomste huishoudings. Hulle soek hulp omdat hulle nie vervoer kan bekostig nie.

“Ons het gereeld personeeltekorte en ‘n gebrek aan basiese toerusting ervaar, wat die werk ernstig beïnvloed.

“Die swaar werkslading lei tot lang wagtye, oorwerkte personeel en emosionele uitbranding. As verpleegster by Goodwood-kliniek moes ek nie net mediese sorg lewer nie, maar ook sosiale, emosionele en praktiese probleme hanteer,” vertel sy.

Baie keer moes ek as bestuurder instaan. “Die werk was nooit vir my te veel nie. Ek het ingespring waar daar ‘n behoefte was. Ons het hard gewerk, maar ook saamgestaan om deur elke dag te kom.”

Toe Covid-19-pandemie tref, was dit een van die moeilikste tye in haar loopbaan. “Die onsekerheid, die vrees, die verliese, maar ons het aangehou. Ons het opgedaag, dag ná dag met moed, geloof en deursettingsvermoë, want ons pasiënte het ons nodig gehad.”

Haar passie

Hartzenberg erken dat sy die beroep gaan mis, maar nog meer, haar pasiënte gaan mis. “Party van hulle wil nie eers meer die kliniek besoek nie omdat ek nie meer daar is nie. Hulle bel my steeds elke dag.”

Sy meen sy sal altyd ‘n verpleegster bly.

“Al tree ek nou af, bly dit my passie. Ek gee steeds sop en kos uit, help mense om hul medikasie te verstaan, doen bloeddruk- en suikertoetse.

“Wanneer ‘n mens vir ‘n beroep gebore is en deur God geroep word, is dit nooit net ‘n werk nie. Ná bykans 40 jaar se diens het ek alles gegee, lewens gered en ‘n blywende impak gemaak.

“Nou sien ek uit na my welverdiende rus, my rol as ouma, en om uiteindelik die lewe te geniet,” sê Hartzenberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article