Wes-Kaapse premier Alan Winde het op 30 Januarie ’n vergadering van die Wes-Kaapse regering se Geïntegreerde Energie- en Waterraad gelei om die provinsie se reaksie op toenemende water tekorte verder te koördineer.
Met die opening van die vergadering het Winde provinsiale kabinetslede, burgemeesters, munisipale bestuurders en ander rolspelers aangemoedig om die momentum te behou om die Wes-Kaap se energie- en watersisteme meer veerkragtig te maak. Watersekerheid was boaan die agenda, luidens ‘n verklaring uitgereik deur Winde se kantoor.
Die raad is ingelig dat die Wes-Kaapse labinet op 22 Januarie formeel ’n versoek aan die Nasionale Rampbestuursentrum (NRMC) gerig het vir die verklaring van ’n provinsiale ramp. Dié versoek dien as ’n voorkomende risiko-bestuursmaatreël om beter bestuur en koördinering te verseker.

Volgens die raad is dit waarskynlik dat die NRMC die versoek sal toestaan, wat die weg sal baan vir die vrystelling van noodfondse om die provinsiale regering se algehele ramphanteringsvermoë te versterk.
Die implementering van die Wes-Kaapse Waterveerkragtigheidstrategie, wat in Oktober 2025 bekendgestel is, vorder ook. Winde het gesê die strategie fokus op beide onmiddellike en langtermynoplossings.
“Vinnige bevolkingsgroei, klimaatsverandering en stygende vraag beteken elke druppel water tel. Aanhoudende tydperke van ondergemiddelde reënval in verskeie opvangsgebiede beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n holistiese benadering tot die beveiliging van ons waterbronne,” het hy in die verklaring gesê.
Die strategie beoog om watersekerheid te versterk deur geteikende programme, insluitend waterbesparing en vraagbestuur, wateraanvulling, infrastruktuurontwikkeling en verbeterde bestuur.
Verskeie munisipaliteite in die provinsie het reeds begin om hul waterinfrastruktuur te onderhou en op te gradeer.
Na raming sal sowat R844 miljoen oor die volgende twee jaar aan hierdie projekte bestee word, volgens die verklaring.
Daarbenewens belê die Wes-Kaapse regering meer as R2 miljard in grootmaat-waterinfrastruktuur oor die medium termyn om waterveerkragtigheid vir die komende dekades te verseker.
Die provinsiale regering sal voortgaan om saam met nasionale en plaaslike vennote te werk om waterbronne te monitor en langtermynstrategieë te implementeer wat klimaatsveerkragtigheid versterk. Inwoners word aangemoedig om op hoogte te bly van plaaslike waterbeperkings en om alle riglyne vir waterbesparing na te kom.
Die Wes-Kaapse regering doen ook ’n beroep op inwoners, besighede en boere om hul waterbesparingspogings te verskerp. “Uiteindelik moet ons water verantwoordelik gebruik, regdeur die jaar en nie net tydens krisisse nie,” het Winde gesê.






You must be logged in to post a comment.