‘n Nuwe doku-realiteitsreeks wat eersdaags op VIA uitgesaai word nooi kykers om iemand anders se wêreld van naby te ervaar. Die reeks herinner dat ware konneksie begin wanneer ons ophou wegkyk en werklik begin om mekaar raak te sien. Die trant is sag, eerlik en diep menslik, met ‘n sterk fokus op omgee en menswaardigheid.
Sumarie Greyling (née Jordaan), sangeres, motiveringspreker en voormalige Mej. Dowe SA-finalis en hoofmeisie van die Jan Krielskool in Kuilsrivier, bied die program aan.
Droom
Sumarie is self hardhorend en leef met serebrale gestremdheid aan haar linkerkant. Sy vertel dat haar droom nog altyd was om mense se mening oor gestremdheid te verander, en om te wys “differently abled” beteken nie minder nie, maar anders – en net so bekwaam.
Verander jou siening bring hartlikheid, humor en doelgerigtheid na verhale wat dikwels nie in die hoofstroom vertel word nie.
Elke episode stel kykers bekend aan drie sentrale figure: Sumarie as aanbieder, ‘n bekende gas soos Mia le Roux, Willem Botha of Leah, en dan die ware ster van die episode – iemand wat anders bekwaam is en ‘n unieke storie van veerkragtigheid en menswees dra.

Die bekende bring ‘n volle dag in die ander persoon se wêreld deur – nie as toeskouer nie, maar as deelnemer. Die ervaring bring eerlike gesprekke, ongemak, baie humor en soms trane, maar altyd groei.
Lied
Voor die program was daar ‘n lied, “Verander jou siening“, wat Sumarie self geskryf en gesing het. Die liedjie is meer as drie miljoen keer op sosiale media gekyk en het uiteindelik die vonk geword vir die TV-reeks.
“Mense was skepties oor of ek dit kan doen, en of Suid-Afrika gereed is vir ‘n reeks soos hierdie,” sê Sumarie.
Maar ons wys dat differently abled mense nie beperk is nie. Ons wys lig, humor, menslikheid en trots.
Die doel van Verander jou siening is om werklike konneksie tussen individue wat andersins nooit sou ontmoet nie te fasiliteer – en om ruimte toe te laat vir persoonlike groei deur eerlike gesprekke, gedeelde oomblikke en die moed om ongemak te konfronteer.
Die reeks roem hom op integriteit in sy storievertelling: niks word opgevoer nie, en elke interaksie is gegrond in die geleefde waarheid van die individue op die skerm.
Die eerste episode fokus op Sumarie se identiese tweelingsuster, Elanza, ‘n para-atleet wat haar lewe met krag, humor en volheid leef. Dit is ‘n eerlike viering van menswees – sonder jammerte of sensasie.
Leerskool
Hein Scholtz, regisseur en medevervaardiger, sê Verander jou siening was ‘n ongelooflike leerskool vir die span. “Ek kan eerlikwaar sê ons het só baie geleer oor toeganklikheid, hoe mense wat differently abled is die wêreld sien en ervaar en daarin beweeg. Dit was ‘n voorreg.
“Ek dink dit sal blyk uit die program, want as die span wat die verfilming doen só geraak is, hoop ons kykers sal ook meegevoer word en hul siening verander. Dalk sal hulle die wêreld voortaan op ‘n ander manier ervaar deur mense en hul uitdagings ook meer in ag te neem.
“Die wêreld is só gepolariseer op die oomblik, en ‘n program soos hierdie is juis die regte medisyne om ons weer terug te bring na dit wat werklik saak maak: liefde, gemeenskap, respek en begrip,” sê Scholtz.
Die program werp ook ‘n blik op die organisasies en skole wat gemeenskappe skep vir mense wat differently abled is. “Dit was ‘n voorreg om te sien hoe ons gaste te danke aan hulle kan floreer en in die samelewing inskakel. Ons het almal as beter mense aan die ander kant van die program uitgekom,. My hoop is dat die kyker dieselfde avontuur saam met ons sal beleef.”
Die weeklikse program begin op Donderdag 5 Februarie om 20:00 met heruitsendings op Sondae om 18:30 op VIA (DStv-kanaal 147).






You must be logged in to post a comment.