Weslander

Jongman van Weskus koelbloedig vermoor; verdagtes vlug toneel


Kan ‘n ma nog seer hanteer?

Só vra Shereen Williams, ’n ma van Vredenburg, haarself af nadat haar seun, Sherman Williams (29), koelbloedig vermoor is.

Die voorval het op Woensdag 14 Januarie omstreeks 21:25 in Boomstraat, Louwville, plaasgevind, waar Sherman in sy voertuig doodgeskiet is.
Volgens die polisie het drie mans, wie se gesigte na bewering bedek was, Sherman in die voertuig genader en verskeie skote op hom afgevuur voordat hulle te voet van die toneel af gevlug het.
Soos Shereen verduidelik, het haar seun pas van die winkel af teruggekom en geparkeer toe sy die skote hoor afgaan. Sy het uitgehardloop en, toe sy haar seun in dié toestand sien, dadelik die polisie gebel.

Volgens Shereen het ’n vriend in die motor geklim nadat dit bevestig is dat Sherman nog reageer, en sonder twyfel agter die stuur ingespring om hom na die Vredenburg- provinsiale hospitaal te jaag.

Sherman Williams
Die wyle Sherman Williams.

Ten spyte van mediese noodpersoneel se pogings om sy lewe te red, het hy later aan sy beserings beswyk. Sherman is ook die broerskind van wyle Garth Williams, wat in Mei 2023 ook in ’n skietvoorval oorlede is.
Die nuus van haar seun se dood het Shereen hard getref, juis omdat daar reeds soveel hartseer en sterftes in die familie was. “Ek het al te veel seer gekry en ek weet nie of ek nog seer kan hanteer nie.”
Shereen beskryf haar seun as ’n mense-mens, ’n uitgaande persoon en iemand wat lief was vir die lewe.

“Ek gaan alles van hom mis, van ons laatnag-gesprekkies tot die bederfies en al die klein dingetjies wat hy gedoen het.”
Medelye is deur die gemeenskap gedeel, wat geskok is deur die nuus van die voorval. Inwoners sê ook hulle dink aan die familie en dra hulle in gebed.

moordtoneel
Polisie op die toneel van die skietvoorval.


Die motief vir die aanval is in hierdie stadium onbekend. Die Vredenburg-polisie het ’n moordsaak geopen en ondersoek die omstandighede rondom die voorval.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article