Kan ek net sê, 'n rubriek deur Sonja Kruger
Kan ek net sê, ‘n rubriek deur Sonja Kruger

Terwyl die son vir oulaas oor 2025 gesak het en die stof van ‘n lang, uitdagende jaar stadig gaan lê, word die nuwe jaar met ope arms verwelkom.

Dit was ‘n jaar van teleurstelling en verlies – van mense wat ons moes groet en planne wat nie altyd volgens plan verloop het nie. Vir baie het die jaar gevoel of jy twee tree vorentoe beweeg en drie tree terug gee. Waar jy verby moeg gevoel het. Die jaar het lank gevoel, tog as ek na die kinders se skoolklere kyk wat nie meer pas nie, besef ek hoe vinnig die tyd eintlik verby gegaan het.

Broeke wat skielik bo die enkels sit, moue wat te kort geword het en skoolskoene wat druk. En dit verstom my hoe vinnig ‘n gr.1-kind kon aanpas in net ‘n jaar … van net ‘n naam kan skryf tot sinne bou en somme kan uitwerk.

Dit voel of ek iewers ‘n gedeelte van die groeiproses gemis het. Die daaglikse gejaag van Punt A na Punt B, kalenders en programme byhou, en om kop te probeer hou met wie, wanneer, waar moet wees. En net sodra jy gemaklik raak met laerskool-fase, kom die nuusflitse met ope-dae vir hoërskole.

Een oomblik is jou kind nog klein en die volgende oomblik probeer jy verstaan wanneer die tiener-stadium dan begin het. Dit gebeur sommer oornag en sonder waarskuwing.

‘n Dag ná Kersdag en die terug-skool-toe-advertensies word uitgestuur, die inkopie-sentrums se kersversierings het plek gemaak vir skoolbenodighede. Tog voel dit of ons ons ook daarmee moet vereenselwig, want voordat ons een fase behoorlik kon afsluit, is ons al besig met die volgende fase van die lewe.

Die nuwe jaar het nie vir almal dieselfde vooruitsigte nie en die meeste mense stap die nuwe jaar in met ou bagasie en bekende vrese. Vir ander is dit ‘n nuwe jaar om te hoop dat dit die jaar sal wees waar alles sal uitwerk. En dis okei, want elkeen stap sy eie pad, sy eie rigting en het sy eie tyd om sy doelwitte te bereik.

Miskien is die ware uitdaging vir die nuwe jaar nie om dit perfek te beplan nie, maar om teenwoordig te wees.

Vir baie begin die jaar nie op ‘n nuwe skoon bladsy nie, maar ons kan kies hoe ons dit verder volskryf om ‘n meer betekenisvolle verhaal te skep.

Saam met die verskillende fases van die lewe en sy uitdagings kom en gaan daar mense in jou lewe.

Ek is geseënd om die nuwe jaar met hartsmense te begin, – die mense wat kies om deur elke fase van jou lewe te bly wat help om jou reis ligter te maak. Diegene wat lag, luister en ondersteun wanneer dit nodig is.

In 2025 het die bekende woorde: “It takes a village to raise a child” weer nuwe betekenis vir my gegee, want ons is omring deur wonderlike omgee-mense.

Mag ons die nuwe jaar die rat stel om vinniger oor die opdraendes te beweeg en ratte te wissel om stadiger te beweeg by die mense en dinge wat regtig saak maak, want miskien het ons dinge misgeloop omdat ons te veel aandag gegee het aan die dinge wat veronderstel is om minder saak te maak.

Groei gebeur stadig; en voor jy jou oë uitvee het jou lewe verby gejaag.

Mag die nuwe jaar se bagasie ligter wees, jou rat laer wees vir dinge wat werklik saak maak – en mag dit die beste weergawe ooit van jouself wees. Voorspoed vir 2026.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article