Op die adrenalien-belaaide Six Gun Grill- Trans Algulhas-opblaasboot-uitdaging in Desember, het Rikus Roux, ‘n sakeman van Ashton, en Ian Hall, ‘n gr.11-leerder aan die Hoërskool Swartland, in die Koning van die branders-afdeling koning gekraai.
Altesaam 50 bote het aan die uitdaging, wat as een van die taaiste van sy soort bestempel word, deelgeneem. Roux, die bestuurder, en Hall het algeheel vierde geëindig. Hulle was derde in die Pro Stock-klas . Die kompetisie oor 700 km is van 28 tot 31 Desember beslis.
Roux sê sy oorspronklike spanmaat is vyf weke voor die kompetisie beseer.
Nuwe spanmaat
“Ek moes inderhaas ‘n plan maak as ek wou deelneem en het deur vriende van Ian gehoor. Ons het drie naweke saam geoefen – spanwerk is baie belangrik.”
Hall se werk was om die boot se neus teen die regte hoek te hou en seker te maak hulle tel genoeg spoed op.
Roux het in 2010 op 19-jarige ouderdom aan sy eerste Trans Algulhas deelgeneem. Hierdie was sy vyfde deelname.
Op die eerste dag, op 28 Desember, het die spanne uit Plettenbergbaai weggespring en in Mosselbaai klaargemaak – ‘n afstand van 188,5 km. Die bote moet by stopplekke tussenin aandoen.
Gedurende die tweede dag het hulle van Mosselbaai na Stilbaai vertrek (86 km) en op die derde dag van Stilbaai na Struisbaai (161 km). Die laaste skof was van Struisbaai tot in die Strand (223 km).

Swaar mistigheid het die fase tussen Stilbaai en Struisbaai belemmer. Daar is ‘n baan van 28 km in Struisbaai opgestel. Al die spanne moes ses rondtes hiervan voltooi.
Die Koning van die branders-afdeling bestaan uit ‘n baan met boeie waarvan die deelnemers vyf rondtes tussen die golwe deur moet volooi.
“Die organiseerders se reëlings was briljant en dit is een van die redes hoekom die sport so groei,” sê Roux.





