DARLING – Een van die oorspronklike woonhuise op die Waylands-plaas net buite Darling, is “binne vyf minute” in ‘n brand verwoes. Die huis het eindelose geskiedkundige skatte bevat wat vir ewig verlore is.
Só vertel die eienaar John Duckitt, wat tot twee weke gelede steeds in die einste huis gewoon het.
“Niks het oorgebly nie,” sê ‘n steeds verstomde Duckitt, wat op Maandag 2 Desember hom tevergeefs na die brandkraan langs die huis gehaas het toe hy sien daar is moeilikheid.
Duckitt vermoed die brand by die huis, wat ‘n klipgooi van die R315 – sowat 6 km buite Darling – geleë is, het weens iemand se sigaretstompie wat langs die teerpad neergegooi is, ontstaan.
“Die wind het daardie dag stormsterk tussen 40 en 60 kilometer per uur gewaai.”
Met die Swartland-brandweerdienste se aankoms was die meeste skade reeds aangerig, vertel Duckitt, wat intussen by die gastehuis langs hul huis ingetrek het.Hy het die brandweerdienste, wat binne minute daar was, vir hul spoedige reaksie geloof. Hulle was toevallig besig om in ‘n bloekombos nie ver van sy plaas af nie, te werk. “Hulle het alles denkbaar gedoen om te red wat te redde was en uitstekende werk gedoen om die ander huise teen die brand te beskerm.”

Tot die brandweerdienste se splinternuwe brandweerwa is ingespan om die brand in bedwang te bring, voeg hy by.
Die kombinasie van sterk wind, die warm weer, die grasdak en ou materiaal het die brand vinnig in ‘n vuurwarm oond verander.
Duckitt vertel hoe hierdie huis met sy grasdak al menigte brande in sy leeftyd oorleef het, danksy die akkerbome wat die huis omring. ‘n Veldbrand in 2000 het die meeste akkerbome verwoes. “Die laaste akkerbome is deur dié brand vernietig en was nie genoeg om die huis weens die stormsterk wind wat die brand help aandryf het, te beskerm nie.”
Die huis is met sy voorouers se aankoms uit Engeland in die 1860’s, gebou. Met hul aankoms was ander woonhuise reeds op die plaas, waarvan sommige tot vandag toe ‘n grasdak het. Sy voorouer William Duckitt het in die 1800’s in Suid-Afrika as die eerste landbou-voorligter aangekom.
Hy het ‘n tekening met verskeie nuwe tegnologies gevorderde implemente saam met hom gebring.
Sy smid het ook na Suid-Afrika gekom om die implemente vir die bevordering van landbouproduksie in die Kaap te bou.
Dié oorspronklike tekening is in die Darling-museum te sien.

Die plaas is na die familieplaas Waylands in Surrey, Engeland, genoem. “Jare se geskiedenis is verlore. Jy kan nie ‘n waarde daarop sit nie,” meen hy. Stokou silwer eetgery is gesmelt en waardevolle skilderye is verbrand. Briewe wat gedurende die eerste wêreldoorlog tussen sy oupa- en oumagrootjie aan mekaar geskryf is, insluitend van sy ouma uit ‘n konsentrasiekamp, het ook in die slag gebly.
Nóg waardevolle items sluit onder meer ‘n mediese glasmikroskoop in, wat vanuit 1854 dateer, porseleinborde uit die 1700’s uit Engeland en talle kosbare foto-albums, om maar net ‘n paar te noem.
Sprake van herbou en restorasie is weens die komende feestyd vir eers opsy geskuif.






You must be logged in to post a comment.