Tydens Desembervakansies word kinders aan verhoogde veiligheidsrisiko’s blootgestel.
“Die kombinasie van langer dae sonder toesig, veranderde roetines, verhoogde alkoholgebruik en algemene feestyd-druk lei jaarliks tot ‘n styging in voorvalle waarin kinders se veiligheid in gedrang kom,” se Karoline September. Sy is ‘n maatskaplike werker by Badisa, ‘n niewinsgewende organisasie wat onder meer maatskaplike welsynsdienste bied.
September sê die belangrikste beginsel is eenvoudig: Ouers moet te alle tye weet waar hul kinders is.
“Wanneer kinders sonder toesig rondbeweeg, veral in die vakansie, word hulle aan gevaar blootgestel. Probeer so ver moontlik om kinders by die huis besig te hou sodat hulle nie in die strate hoef rond te dwaal nie. As jy ’n werkende ouer is, moet jy jou kinders in betroubare sorg plaas,” verduidelik sy.
Kuier verantwoordelik
Gedurende die feestyd verander baie gesinne se roetines. Ouers is meer sosiaal weens verskeie byeenkomste wat bygewoon word wat ook soms met meer alkoholgebruik gepaardgaan.
Hierdie faktore kan kinders se veiligheid direk beïnvloed.

“Ons sien elke jaar dat kinders makliker verwaarloos of selfs mishandel word wanneer volwassenes hul aandag na sosiale aktiwiteite verskuif. Ouers moet verantwoordelik omgaan met alkoholgebruik en ten alle tye in die beste belang van hul kinders optree,” sê September.
Volgens September is daar ’n paar herhalende risiko’s wat elke vakansietydperk na vore kom. Kinders word soms alleen by die huis gelos of selfs uitgesluit, veral wanneer ouers by ander geleenthede is. Alkoholmisbruik vererger hierdie situasies en verhoog die kans op verwaarlosing, mishandeling en molestering.
Hou altyd waterveiligheid voor oë
“Talle kinders swem in damme en ander waterplekke sonder toesig. Dit is ’n ernstige risiko. Ouers moet seker maak kinders ontvang toesig, en dat kinders nie alleen rondloop of alleen gaan swem nie,” waarsku September. Sy moedig ouers ook aan om openlik met kinders te praat oor gevare in die gemeenskap, en om duidelike reëls en perke vir die vakansie te stel.
Veiligheid in openbare plekke
Wanneer gesinne na besige plekke soos strande, winkelsentrums of feeste gaan, is voorbereiding noodsaaklik. September beveel aan dat ouers vooraf met kinders praat en verduidelik dat hulle naby hul ouers of familie moet bly. Jonger kinders moet hul volle name ken, asook hul ouers se name.
LEES OOK: Celebrating World Foster Day: Impact and awareness in South Africa
“Dit help baie as ’n kind verdwaal. Ouers kan ook ’n eenvoudige armband maak met kontakbesonderhede daarop wat die kind kan dra. As die kind wegraak, kan iemand vinnig die ouers kontak. Kinders moet ook die noodnommer 10111 ken, en ouers moet vir hul kinders wys waarheen hulle kan gaan as hulle verdwaal, soos lewensredders op strande, mobiele polisie-eenhede, of die inligtingstoonbank in ’n winkelsentrum.”
Waar om hulp te kry
“As ’n ouer bekommerd is dat hul kind onveilig is of wegraak, moet hulle dadelik hulp soek. Kontak die plaaslike polisiekantoor, jou naaste Badisa-kantoor, of maatskaplike dienste in jou area,” sê September.
Badisa moedig ouers en versorgers aan om hierdie noodnommers byderhand te hou en dit ook met ouer kinders te deel. Vinnige optrede kan ’n enorme verskil maak wanneer ’n kind wegraak, beseer word, of in gevaar is.
Handige noodnommers vir die Desember-vakansie:
- Polisie – noodgeval: 10111
- Childline Suid-Afrika (gratis hulplyn vir berading en mishandeling): 116
- Algemene selfoon-noodnommer: 112
- Geslaggebaseerde geweld (GBV)-oproepsentrum (meld mishandeling aan): 0800 428 428
- Hulplyn vir mensehandel: 0800 222 777
- Ambulans / mediese noodgeval: 10177






You must be logged in to post a comment.