‘n Baanbreker in die vervaardiging van Cap Classique en die stigter van Haute Cabrière in Franschhoek, Achim von Arnim is die afgelope Maandagaand (8 Desember) op 80-jarige ouderdom vreedsaam oorlede omring deur sy familie.
Luidens ‘n verklaring deur Haute Cabrière, het Achim se verhaal lank voor sy dae by dié gewilde wynplaas begin.
As ’n jong keldermeester het sy tyd by Boschendal die grondslag gelê vir ’n suskesvolle loopbaan. Daar het hy een van Suid-Afrika se vroegste tradisionele vonkelwyne vervaardig en die tweede Cap Classique in die land.
“Van die begin af het hy reeds verstaan wat baie nooit raaksien nie: dat wyn ’n kunsvorm kan wees, en dat die grond self stories dra wat wag om onthul te word,” lui die verklaring.
Sy grootste liefdesverhaal het egter begin toe hy ’n stuk grond in Franschhoek ontdek het wat vir hom herhinner het aan Frankryk. Achim en sy vrou, Hildegard von Arnim het toe Haute Cabrière gevestig en ‘n “droom ‘n realiteit gemaak”.
Die Von Arnim-egpaar was met Achim se afsterwe reeds meer as 56 jaar getroud en het vier kinders saam, naamlik Tanja, Takuan, Zoë, en Tamo von Arnim.

Tanja is sedert haar ouers se aftrede die uitvoerende hoof van Haute Cabrière en Takuan die wynplaas se wyn-direkteur, terwyl Zoë haar pa se nalatenskap voortbou in België, waar sy Haute Cabrière-wyne na Europa invoer.
“Die verhaal van Achim en Haute Cabrière gaan nie net oor sprankelende wyn nie. Dit gaan oor mense. Dit gaan oor risiko en beloning, oor familie, oor liefde en die strewe na iets groter as jouself,” het Hildegard in die verklaring gereflekteer.
Hier, onder die Middagkransberg, het Achim toe sy eerste wynreeks by Haute Cabrière tot lewe gebring – die gewilde Pierre Jourdan.
“Sy Cap Classiques was ’n huldeblyk aan die vallei se oorspronklike 17de-eeuse Hugenoot-eienaar en het die gees van Franse sjampanje laat weerklink. Met sy kenmerkende flair het hy ’n toekoms verbeel waar Suid-Afrikaanse borrels trots langs die wêreld se beste kon staan,” aldus die verklaring.
Een moeilike oesjaar, toe die druiwe te vinnig ryp geword het vir Cap Classique, het Achim ’n geleentheid gesien eerder as ‘n terugslag.
“Gegrond in sy oortuiging dat groot wyne gegroei word, het hy geneem wat die natuur vir hom gegee het die Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir – ’n eerste vir Suid-Afrika – vervaardig.”
Vandag is Haute Cabrière en veral die Pierre Jourdan Cap Classique-reeks oral in Suid-Afrika te sien en word ook uitgevoer.
Volgens die verklaring was Von Arnim ‘n kreatiewe mens, en het ook geskilder.
“Besoekers onthou die vonkel in sy oog, sy vrygewige lag en die manier waarop hy jou laat voel het asof die storie wat hy vertel net vir jou bedoel is. Baie onthou hom die beste oor ’n gedeelde bottel wyn.”
LEES OOK: Franschhoek trumpted its Cap Classique sparklers this weekend
Huldeblyke vir hierdie Cap Classique-pionier het wyd en suid ingestroom, onder andere deur die bekende RSG-omroepper, Martelize Brink, wat in die Paarl woon.





