Foto's uit die Anglo-Boereoorlog in kleur skep 'n nuwe perspektief en belangstelling in hierdie tydperk van Suid-Afrika se geskiedenis.
Die tweede volume van die Anglo-Boereoorlog in kleur is nou beskikbaar.

BLOEMFONTEIN – Ná die sukses van Tinus le Roux se eerste boek met kleurfoto’s van die Anglo-Boereoorlog, het daar nou nog ‘n boek verskyn wat dié tyd in Suid-Afrika se verlede uitbeeld.

Meer as 14 000 van die eerste uitgawe Die Anglo-Boereoorlog in Kleur: Konvensionele Oorlog, 1899-1902, Volume 1 wat in 2022 verskyn het, is verkoop.

Le Roux het Vrydag 5 Desember die tweede volume van die boek by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein bekend gestel. Die Anglo-Boereoorlog in Kleur: Guerrillaoorlog, 1900-1902, Volume 2 is ‘n voortsetting van die verhaal van die oorlog waarin oorspronklike foto’s digitaal ingekleur is en ‘n nuwe perspektief op die oorlog bied.

Foto's uit die Anglo-Boereoorlog in kleur skep 'n nuwe perspektief.
Op die bekendstelling van Die Anglo-Boereoorlog in Kleur by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein op 5 Desember, is van links Tinus le Roux (skrywer), Melanie Moolman (dogter van wyle Nico Moolman) en dr. Johan van Zÿl (Oorlogsmuseum). FOTO: Lientjie Mentz

Le Roux sê die eerste boek was die chronologiese vertelling van die gebeure van die oorlog, waar die tweede boek verskeie aspekte van die latere deel van die oorlog uitbeeld. “Dit was ‘n bietjie meer uitdagend om steeds die storie te vertel, maar verskeie uiteenlopende aspekte byeen te bring,” vertel hy. Dit sluit in albums oor die Boeremagte in die veld, die Britse magte in die veld, die verskroeideaardebeleid, Boerekrygsgevangenes en konsentrasiekampe vir vroue en kinders en die sluiting van vrede.

Die foto’s is bekom uit versamelings van individue soos Nico Moolman, wat negatiewe van foto’s uit die oorlog gedigitaliseer het, en die Oorlogsmuseum wat beskik oor meer as 10 000 foto’s uit die era. Moolman is in Augustus oorlede en Le Roux het spesiaal melding gemaak van sy bydrae en ‘n boek aan sy dogter, Melanie Moolman, geskenk.

Van die foto’s kom ook uit versamelings in die buiteland soos reglementsmuseums in Brittanje en die Rijksmuseum en Zuid-Afrikahuis in Nederland.

“In talle mense se huise is daar juwele wat mettertyd te voorskyn kom,” sê Le Roux.

Foto's uit die Anglo-Boereoorlog in kleur skep 'n nuwe perspektief.
Die Anglo-Boereoorlog in Kleur, Volume 2 is nou beskikbaar.

“Hoewel daar oorvloedig foto’s van die Britse soldate in hierdie tydperk van die oorlog was, was daar min van die Boeremagte. Anders as die begin van die oorlog toe formele foto’s deur fotograwe geneem is, was daar geen fotograwe saam met die burgers tydens die guerrilla-oorlogvoering nie. Foto’s van die burgers is dus uiters skaars. In teenstelling daarmee het talle Britse soldate hul eie bokskameras gehad waarmee hulle foto’s geneem het.”

Le Roux sê daar was geen geriewe in Suid-Afrika waarmee dié films ontwikkel kon word nie, so alles moes met die boot weggestuur word om ontwikkel te kan word.

“Die twee boeke is bedoel as koffietafelboeke waarmee mense maklike toegang kan kry tot die gebeure van die oorlog,” verduidelik Le Roux. “Dit beeld die geskiedenis in foto’s uit. Foto’s wat ek so lewensgetrou moontlik ingekleur het.”

In die boek is foto’s opgeneem wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie, soos twee foto’s van ‘n huis wat afgebrand word in die Britte se verskroeide-aardebeleid. Daar word bereken dat meer as 30 000 huise deur dié beleid waarvolgens strydende Boere se huise afgebrand is en die vroue en kinders weggevoer is na konsentrasiekampe, afgebrand en verwoes is.

Johan van Zÿl van die Oorlogsmuseum, wat tydens die bekendstelling met Le Roux gesels het, sê wat vir hom besonders van die boek is dat die nasleep van die oorlog ook uitgebeeld word.

“Dit is ‘n wonderlike toevoeging om die relevansie van die oorlog op die jare daarna uit te beeld. Dit sluit in die talle leiersfigure tydens die oorlog aan Britse en Boere-kant en wat later jare van hulle geword het.” Verder is daar kortliks dele oor die Eerste Wêreldoorlog, die 1914-rebellie, die Tweede Wêreldoorlog en die einde van die Boeregeneraal-era.

Le Roux sê die eerste boek is ses keer herdruk, waarvan die laaste herdrukke dié van die Engelse weergawe van die boek is.

Volume 2 is ook in Engels beskikbaar.

Lees meer oor Die Anglo-Boereoorlog in Kleur, Volume 1.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article