Worcester Standard & Breederivier Gazette

Kaapse kobra kry steke: beseerde slange is gevaarlik, waarsku kenner

Dr. Elza Botes heg ‘n Kaapse kobra se wonde, terwyl die slangvanger André du Preez seker maak die slang se “skerp kant” bly veilig in ‘n pyp. Foto: Ashley Laubscher

WORCESTER – ‘n Kaapse kobra het ‘n noue ontkoming gehad nadat verskrikte huisbewoners hom met ‘n graaf bygekom het.

Die hulp van André du Preez van Silverfox Snake Rescues is ingeroep toe die slang spore maak.

“ ’n Kobra is reeds gevaarlik. Dit is nie ‘n goeie idee om hom nog te wond ook nie. Dit beteken dat hy heel moontlik nie kan jag nie en net daar om jou huis gaan bly. Dit hou ‘n groter risiko vir kinders en troeteldiere in,” het Du Preez gesê.

Du Preez is met die Kaapse kobra na die Durbanstraat-dierekliniek in Worcester, waar dr. Elza Botes steke vir die 1,6 m-lange slang se wonde ingesit het. Om dit op ‘n veilige manier te doen, is die slang se kop in ‘n deurskynende pyp gesit wat Du Preez vasgehou het terwyl die wonde geheg is.

“Die outjie was sleg beseer en ‘n mens kon sy binnegoed sien. Die veearts het steke binne en buite ingesit. Die slang gaan vir twee weke by my bly sodat ons seker is daar is nie infeksie nie en dat hy sal oorleef,” het Du Preez gesê.

“Dr. Elza het so nou en dan geloer waar die kobra se kop is, dan verseker ek haar sy is veilig en sy gaan voort.”

Die slangseisoen hou Du Preez reeds goed besig. Hy het in September 34 oproepe ontvang om slange te kom verwyder en in Oktober 55. Van die slange was 26 Kaapse kobras, agt pofadders, drie boomslange, een ‘n Karoo-sandslang, twee molslange, vier bruin huisslange, drie eiervreters en een slakvreter. ‘n Driekwart van dié slange is baie giftig.

Hy verwag dat die seisoen wat voorlê, besig gaan wees. “Die veld is droog en rotte en muise gaan soek kos en water by huise. Daardie hondekos wat buite staan, lok hulle. Waar hulle gaan, urineer honde en dit ruik vir ‘n slang soos KFC of ‘n Happy Meal. Bêre die diere se kos en hou erwe skoon om slange te vermy,” het hy gewaarsku.

Volgens Du Preez is dit tot middel-Fe- bruarie paartyd en slange is meer aktief.

Wanneer mense ‘n slang teëkom, het Du Preez gesê, moet hulle nie weghardloop nie. “Staan terug en hou die slang dop – hy verdwyn gou. Roep iemand om ‘n slangvanger te skakel. Wanneer dit in ‘n kamer is, trek die deur toe en druk ‘n handdoek onder in sodat hy nie onderdeur seil nie. Indien daar oop vensters is, kan dit van buite af toegemaak word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article