VELDDRIF – Die Bergrivier-munisipaliteit het bevestig dat die huurkontrakte van die historiese vissershuisies in Bokkomlaan, Velddrif, verleng is tot 30 Junie 2026. Hierdie besluit kom nadat besighede en vissersgesinne maande lank onder die dreiging van moontlike kontrakverliese gelewe het, met opskorting van hul lewensbestaan wat reeds geslagte lank voortduur.
In Weslander se berig van 30 Oktober (“Bokkomlaan bedreig: ‘Munisipaliteit ontken geskiedenis’”) is inwoners se kommer oor onduidelike wysigings aan kontrakte uitgelig. Die munisipaliteit het nou ’n verklaring uitgereik wat lig werp op die huidige situasie.
Volgens die munisipaliteit het die saak in Mei vanjaar voor die Burgemeesterskomitee en Raad gedien, en is verwys vir regsopinie nadat ’n formele regsbrief ontvang is.
“Die Raad sal verdere rigting gee sodra die regsmening voltooi is,” lui die verklaring van die BM.
Verskeie eienaars van plaaslike ondernemings in Bokkomlaan sê die verlenging bring tydelike verligting, maar geen werklike sekerheid oor hul toekoms nie.

Geskiedenis en erfenis onder druk
Bokkomlaan-aktivis Rudolph de Villiers meen die kwessie raak die kern van Velddrif se geskiedenis. “Hierdie huisies is deel van ons erfenis – die mense van Bokkomlaan verdien openheid en duidelikheid,” sê hy.
Die vissersgemeenskap wag nou op die uitkoms van die regsmening wat moet bepaal hoe die kontrakte en besitstatus voortaan hanteer sal word.
Die ikoniese Bokkomlaan in Velddrif is lank reeds ’n gewilde toeriste-bestemming – ’n plek waar geskiedenis, die natuur en kultuur saamvloei. Dié bekoorlike vissershuisies lê langs die Bergrivier en hier word al geslagte lank bokkoms, harders en ander visspesies verwerk.
Vandag lok die laning met sy karaktervolle huisies, natuurlewe, koffieplekke en tuisgebakte lekkernye, besoekers van oral. Dit is ’n wêreldbekende bestemming waar bokkoms by vissershuisies verwerk en verkoop word, en waar ’n paar ikoniese restaurante en koffiewinkels deur die jare sake gedoen het.
Families se bestaan onder bedreiging
Agter die rustigheid en nostalgie skuil egter ’n groeiende bekommernis. Verskeie eienaars van die vissershuisies sê hul besitregte en kontrakte word stadig verander, “woord vir woord”, sonder behoorlike kommunikasie of instemming.
‘n Ander egpaar, wat reeds 12 jaar lank twee van die huisies besit en self bokkoms verwerk, het ook vroeër aan Weslander gesê die onduidelikheid raak nie net hul familie-erfenis nie, maar ook hul brood op die tafel. Die Smit-gesin verskaf werk aan vissermanne, wat saam vir sowat 15 gesinne se inkomste sorg.
“Ons is skielik ingelig dat die besitregte-ooreenkoms verander het,” vertel hulle. “Die nuwe kontrak wat die Bergrivier-munisipaliteit (BM) aan ons gestuur het, verskil van wat ons al jare lank onderteken.”

Historiese dispuut: Grond versus geboue
Volgens De Villiers verander die kontrakte al vir sowat 20 jaar geleidelik. “Die breukpunt het gekom toe die BM begin het om selfs privaat geboude vissershuisies op tender te plaas,” sê hy.
Hy verduidelik dat dokumente wat terugdateer na die 1950’s toon dat baie van die geboue reeds bestaan het lank voordat Velddrif amptelik ’n dorp geword het. “Die grond is destyds aan die munisipaliteit geskenk, maar die geboue is privaat gebou en besit,” voeg hy by.
Rekords wys toe Velddrif in 1966 die grond amptelik oorgeneem het, die munisipaliteit ’n duidelike skeiding gemaak het tussen die grond (munisipale eiendom) en die geboue daarop (private besit).
Tog, sê De Villiers, het die BM oor die jare die bewoording verander – van “private geboue” na “kontraktuele besitreg” en uiteindelik na “property”, wat volgens hom nou die moontlikheid oop laat dat die BM aanspraak kan maak op beide die grond en die gebou.
“Vir sulke wysigings moes die BM elke eienaar behoorlik ingelig het,” sê De Villiers. “Dit het egter nooit gebeur nie.”
AfriForum is intussen om hulp genader.
Meer as net kontrakte: ’n Erfenis onder bedreiging
Vir die mense van Bokkomlaan gaan dit nie net oor kontrakte en klousules nie, maar oor geslagte se trots en erfenis. “Baie van hierdie huisies is al byna 70 jaar lank in dieselfde familie,” sê De Villiers. “Om nou te sê dit is nie private eiendom nie, is om ons geskiedenis te ontken.”
Intussen leef die vissers en families van Bokkomlaan voort – vasbeslote om hul trotse erfenis en lewenswyse te beskerm teen die administratiewe golwe wat hul bestaan deesdae opnuut bedreig.
Terwyl die tydelike verlenging tot Junie 2026 ’n bietjie asemruimte bied, bly die langtermyn toekoms van een van Suid-Afrika se mees gekoesterde toeriste-aantrekkings hangend aan ’n dun draad van regsonsekerheid.
Die sake-eienaars hoop die komende regsmening bring finaal duidelikheid oor die besitregte en kontrakte wat geslagte se erfenis en lewensbestaan bepaal.”






You must be logged in to post a comment.