‘n Prokureur van Welkom wat nou drie lewenslange vonnisse uitdien vir seksuele misdrywe teen min-

derjariges, het Dinsdag nie in die Welkom-landdroshof verskyn vir ‘n borgaansoek oor ‘n aparte saak van beweerde bedrog ter waarde van sowat R15 miljoen nie.

Jan Gysbert Maritz (57) is nie van Grootvlei Gevangenis in Bloemfontein na Welkom vervoer vir sy geskeduleerde borgverhoor nie. Die aansoek is uitgestel tot 28 en 29 Oktober.

Bedrog

is Donderdag, 9 Oktober, inhegtenis geneem op aanklagte rakende bedrog, diefstal, geldwassery, en oortredings van die Wet op Regspraktyke, wat ongeveer R15 miljoen behels.

Volgens ‘n verklaring van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade (Valke), spruit die aanklagte voort uit ‘n boedel betreffende ‘n tender wat aan ‘n sekuriteitsmaatskappy deur Matjhabeng Munisipaliteit toegeken is ter waarde van miljoene rand.

Die munisipaliteit het ‘n uitstaande bedrag van meer as R21 miljoen gehad nadat dienste gelewer is. Die sekuriteitsmaatskappy het hierdie skuld in die Vrystaat Hooggeregshof betwis en uitspraak in hul guns verkry plus sewe persent rente sedert 17 November 2020.

Bertus Maritz (57)

Die bedrag van meer as R21 miljoen het na bewering R15 miljoen van ‘n skikkingsooreenkoms ingesluit wat na bewering in ‘n FNB-rekening betaal is, wat deur Maritz verskaf is.

Ondersoeke het getoon dat die FNB-rekening aan ‘n ander maatskappy behoort waarvan Maritz die alleendirekteur was.

Die uitspraak

Tydens die uitspraak in die seksuele misdrywesaak in die Bloemfontein Hoogeregshof, Donderdag 17 Oktober, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens die vonnis verwelkom wat uitgespreek is toe Maritz drie lewenslange vonnnisse plus 61 jaar gevangenisstraf ontvang het vir seksuele misdrywe teen vyf minderjarige kinders.

Maritz is gevonnis op 16 klagte na ‘n langdurige hofproses nadat hy skuldig bevind is op alle aanklagte wat aanvanklik in 2019 gelê is.

Sersant Mahlomola Kareli, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat het gesê die saak is gerapporteer aan die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) eenheid in Thabong op 25 Maart 2019.

Die suksesvolle vervolging is hanteer deur Advokaat Amanda Bester van die Nasionale Vervolgingsgesag, wat saam met Kaptein Fanie van der Merwe gewerk het.

Die vonnnisse wat opgelê is, was:

• Lewenslange gevangenisstraf vir verkragting (drie klagte)

• Onsedelike aanranding: vyf jaar gevangenisstraf

• Seksuele grooming: agt jaar gevangenisstraf (twee klagte)

• Blootstelling van pornografie aan ‘n kind: vyf jaar gevangenisstraf (twee klagte)

• Seksuele uitbuiting van ‘nkind: vyf jaar gevangenisstraf

• Produksie van kinderpornografie: vyf jaar gevangenisstraf

• Seksuele aanranding: drie jaar gevangenisstraf (vyf klagte)

• Gedwonge seksuele aanranding: vyf jaar gevangenisstraf

Provinsiale Kommissaris Lt-Generaal Baile Motswenyane het gesê die afskuwelike aard van die misdrywe, gepleeg oor jare deur iemand in ‘n posisie van vertroue en gesag, het niks minder as dié vonnis verdien nie.

“Ons vertrou dat hierdie skuldig-bevinding ‘n mate van afsluiting en geregtigheid vir die vyf jong slagoffers en hul families bied.

Slagoffers was braaf om te raporteer

Ons waardeer die moed van die slagoffers om uit te praat en die meedoënlose pogings van kaptein van der Merwe en die vervolgingspan om te verseker dat ‘n gevaarlike oortreder uit die samelewing verwyder word,”het hy gesê.

Die SAPD moedig enigeen met kennis van kindermishandeling of seksuele misdrywe aan om dit onmiddellik by hul naaste polisiestasie of die GKS eenheid te rapporteer.

Volgens Mojalefa Senkoatsane, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is Maritz se naam in die Nasionale Register van Seksuele Oortreders en Kinderbeskermingsregister aangeteken.

“Die NVG stuur ‘n duidelike boodskap: geen posisie beskerm oortreders teen aanspreeklikheid vir geslagsgebaseerde geweld teen kinders nie.

“Die NVG sal sulke sake deeglik ondersoek en vervolging verseker, en gemeenskappe oproep om mishandeling aan te meld en wetstoepassing te ondersteun.

“Hierdie vonnis bied geregtigheid en afsluiting aan slagoffers se families terwyl gewelddadige oortreders van die strate verwyder word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article