Van links is Albert van Wyk, Shaniqua Steenkamp, Alexis, Matthew Blauw en Jason Coulson. Foto: Verskaf

Alexis van Staden (14) van die Goudveld-Hoërskool het onlangs ‘n indrukwekkende prestasie behaal toe sy tweede plek ingeneem het in die nasionale kompetisie Maak my ‘n miljoenêr.

Die 14-jarige Alexis van Staden het tweede geëindig in die nasionale kompetisie, Maak my ‘n milionêr. Van links is Albert van Wyk, Shaniqua Steenkamp, Alexis, Matthew Blaauw en Jason Coulson. Foto: Verskaf

Die prysuitdeling is op 14 Oktober in die Atterbury-teater in Pretoria gehou.

Alexis se besigheid, The Bubble Tea Monster, het die beoordelaars beïndruk met unieke en gesonde produkte, insluitend diabetes-vriendelike “bubble tea”.

Alexis se ondernemingsreis het begin toe sy in gr.5 op entrepreneursdag by haar ou laerskool ontdek het hoe sy lekkers kan verkoop en wins maak.

“Ek het toe ek 11 jaar oud was my eerste lekkers op die mark verkoop en van my wins gebruik om bubble tea te begin,” sê Alexis.

Vandag is sy ‘n jong entrepreneur met ‘n suksesvolle besigheid en ‘n duidelike visie vir die toekoms.

Haar besigheid is uniek omdat dit nie net tradisionele “bubble tea” verkoop nie, maar ook dié wat gesond en diabetes-vriendelik is. Alexis gebruik vars vrugte en gegeurde tee, wat dit vir almal lekker maak, selfs vir mense wat nie van swart of groen tee hou nie.

“Ek wil hê my bubble tea moet spesiaal wees en mense laat glimlag,” sê sy.

Die kompetisie self was intens en uitdagend. Deelnemers moes hul kennis, leierskap en ondernemingsvaardighede bewys deur verskeie uitdagings aan te pak. Een van die bekendste was die Brand Bank, ‘n rooi bank waar die beoordelaars deelnemers oor hul besigheid gevra het en hulle diepte van kennis getoets het. Daarna was daar verskeie uitdagings by die ATKV-oorde om die deelnemers se vermoë om hard te werk, hul leierskapvaardighede en kreatiwiteit te toets. Eindelik moes almal hul besigheid laat groei in wins en omset.

Hoewel dit uitdagend was, het Alexis volhard. Sy sê die moeilikste deel was om met mense te praat om haar besigheid uit te brei, veral wanneer hulle “nee” gesê het.

“Ek het net vir myself gesê ek gaan dit probeer, en aangehou. Moenie bang wees om te vra of te probeer nie,” verduidelik sy.

Alexis het haar besigheidsvaardighede ontwikkel, maar ook nuwe vriendskappe gesluit.

“Die hoogtepunt van die kompetisie was die vriendskappe wat ek gemaak het en al die kennis wat ek opgedoen het,” sê sy.

Sy het besef dat selfs al is daar mense wat dalk nie in jou glo nie, daar altyd iemand sal wees wat jou ondersteun en jou help groei.

Alexis se lewenslesse vorm die kern van haar raad aan ander jong entrepreneurs.

“Maak nie saak hoe oud jy is, hoe jy lyk of van waar jy kom nie − jy kan altyd ‘n sukses van jou lewe maak as jy regtig daarna streef.

“Vertrou op die Here; maak staat op Hom, Hy sal jou altyd lei.”

Alexis se toekomsvisie sluit in om haar eie winkel te hê en mense in diens te neem, sodat sy ander kan help om ook voorspoedig te wees.

Sy hoop om eendag ‘n gemeenskap van entrepreneurs te inspireer en mense te wys dat dit nie saak maak hoe jong jy is nie − sukses is moontlik met harde werk, volharding en geloof.

Die jong entrepreneur het nie net erkenning vir haar tweede plek ontvang nie, maar ook waardevolle ervarings en nuwe konneksies wat haar drome vir die toekoms sal ondersteun. Alexis se storie is ‘n inspirasie vir almal wat durf droom en hard werk, en toon dat geloof, deursettingsvermoë en passie ‘n groot verskil kan maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article