TygerBurger

Vergeet van die politiek en kom lag vir ‘John Smith’ se mannewales by die Hoërskool Durbanville

Phillru van Achterbergh (John) en Danielle Britz (Barbara).
Phillru van Achterbergh (John) en Danielle Britz (Barbara). Credit: RINA G COETZEE

As jy dink jou lewe is ingewikkeld, plaas jouself vir ‘n oomblik in John Smith se skoene – daardie taxi-bestuurder van My Vrou se Man se Vrou met twee vrouens, en nou ook twee gesinne.

In My Boetie se Sussie se Ou is dit 18 jaar later en het John twee gesinne in verskillende dele van Londen, albei dolgelukkig en salig onbewus van mekaar.

Maar wanneer sy twee tieners, ‘n dogter van die een gesin en ‘n seun van die ander, mekaar op sosiale media raak gesels en besluit om in lewende lywe te ontmoet, versnel John se reeds gejaagde lewe tot in die hoogste rat. Hy moet spook om hulle uitmekaar te hou.

My Boetie se Sussie se Ou is die Afrikaanse verwerking van Ray Cooney se Caught in the Net, onder regie van Frans Swart.

Klug op sy beste

Swart sê die stuk is een van daardie klugte wat oor al die elemente beskik om mense aan die lag te kry en aan die lag te hou.

John Smith (Phillru van Achterbergh) soek raad by sy vriend Stanley (Botha Enslin).
John Smith (Phillru van Achterbergh) soek raad by sy vriend Stanley (Botha Enslin). Credit: RINA G COETZEE

“Daardie ‘laugh per minute’. Mense moet net kom lag en ontspan oor die manewales van John Smith en sy twee gesinne. Die wetenskaplikes sê mos daar is niks wat ‘n mens beter laat ontspan as lag nie.

“Daarom is dit vir Lefra Produksies so ‘n eer om hierdie produksie op te voer. Mense wil nie meer wroeg nie – daarvoor sorg ons politiek baie goed.”

Die skreeusnaakse klug is by die Hoërskool Durbanville op die planke vanaf Vrydag 31 Oktober tot Sondag 2 November.

Vertonings is Vrydag om 20:00, Saterdag 15:00 en 20:00 en Sondag om 15:00.

*Bespreek by www.LTickets.co.za of skakel 011 815 3000.

Stefan Lotter (Gavin), Danielle Britz (Barbara), Marissa Claasen (Mary) en Nikita Meyer (Vicky).
Stefan Lotter (Gavin), Danielle Britz (Barbara), Marissa Claasen (Mary) en Nikita Meyer (Vicky). Credit: RINA G COETZEE
Stefan Lotter (Gavin), Phillru van Achterbergh (John) en Marissa Claasen (Ma).
Stefan Lotter (Gavin), Phillru van Achterbergh (John) en Marissa Claasen (Mary). Credit: RINA G COETZEE

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article