BLOEMFONTEIN – Wat doen hardlopers wat al die pad van Bloemfontein af gery het net om te hoor hul wedloop in die Kaap is afgestel kort voordat dit sou begin? Hulle hardloop, natuurlik.
Ongeveer 24 000 atlete was die naweek in die Moederstad vir die Kaapstad-marathon wat op Sondag 19 Oktober sou plaasvind.
Volgens atlete het ‘n sterk wind die oggend van omstreeks 01:00 tot 04:00 gewaai, maar dit was al heelwat rustiger toe die atlete van 05:00 af begin gereedmaak om deel te neem.

Die organiseerders het om 04:45 besluit om die wedloop te kanselleer en het ‘n boodskap aan deelnemers uitgestuur en ook die nuus op sosialemediaplatforms gedeel.
Clark Gardner, uitvoerende hoof van die Kaapstad-marathon, sê dit was vir hulle glad nie maklik om dié wedloop af te stel nie.
“Ons is verpletter deur die besluit,” skryf hy op die webwerf. “Ons het maande lank gewerk en beplan vir alle scenarios en toestande, maar ‘n sterker krag het die finale sê gehad.”
Hy sê winde wat die aand gewaai het, het ‘n chaos by die wedloopdorp in Groenpunt veroorsaak. Op die amptelike webwerf sê die organiseerders tente, drade en stellasies is deur die wind omgewaai en rondgewaai, en daar is besluit om die wedloop af te stel ter wille van die veiligheid van atlete.

Etienne Stone van Pentagon Pistols in Bloemfontein, wat Maandag nog in die Kaap was, sê hy het die oggend om 05:30 gereed gemaak om na die beginpunt by die DHL-stadion in Groenpunt te gaan, waar een van die wegspringpunte was.
Een van die klublede het hom gebel en gesê die wedloop is afgestel.
“Ons groep, wat bestaan uit vriende en familie, het besluit om in elk geval te gaan hardloop. Ons het van die V&A Waterfront al langs die promenade gehardloop,” sê Stone.
Hy sê duisende hardlopers het dieselfde idee as hulle gehad, en ‘n vrolike gees het langs die promenade geheers.
“Daar was selfs nog ondersteuners wat die hardlopers toegejuig het.”

Stone en die groep van 33 klublede van die Pentagon Pistols het sowat 32km afgelê, en hy sê van die hardlopers het 42km afgelê.
“Ons het oral langs die promenade bekendes raakgeloop.”
Hy sê die hardlopers het die teleurstelling van die afstel van die wedloop in ‘n goeie gees aanvaar.
“Ons was teleurgesteld, maar ons het die beste gemaak van ‘n sonskyndag dag langs die see.”






You must be logged in to post a comment.