Drama toe ‘Barney’ uit sy eie verhoor gegooi word weens onordelike gedrag

George Peters oftewel Barney net voordat hy uit die hof verwyder is.
George Peters, oftewel Barney, voordat hy uit die hof weens sy ontwrigtende gedrag verwyder is. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Terwyl regter Almé Stanton Vrydag haar uitspraak in die hooggeregshof in Kimberley uitgelees het oor hoekom sy vir George Peters, oftewel Barney, weens sy ontwrigtende gedrag en kragtens Artikel 159 van die Strafproseswet uit die hofsaal gooi, het hy steeds bo-oor haar probeer praat.

Peters het Vrydag 17 Oktober in sy verset heen en weer in die beskuldigdebank geloop terwyl swaar gewapende polisielede van die taktiese reaksie-eenheid hom begin omsingel het om na die selle te begelei.

Dit was die derde dag van die deelverhoor, wat twee weke gelede begin het, waarin getuienis nie voortgesit kon word nie weens Peters se dwarstrekkery. Verlede week het hy eers aangedring dat sy brief van 18 bladsye waarin hy homself as “Godvresend en onskuldig” beskryf, voorgelees én getolk moes word. Vandeesweek het hy eers aangevoer dat hy weens diabetes te siek is om met die verhoor voort te gaan waarna die hof weereens verdaag moes word.

Donderdag het hy met klaagliedere begin oor hoe “vernietig hy voel, snags nie kan slaap nie, en daarom nie op sy verhoor kan konsentreer” weens die verlange na sy kinders by etlike vroue. Peters het voorheen aan joernaliste gesê dat hy meer as 30 kinders het, maar weet nie presies hoeveel nie.

Hy het ook pyn van “lelike operasies”.

George Peters oftewel Barney word deur polisielede uit die hofsaal vergesel nadat die hof gelas het hy kan nie sy en 15 ander se verhoor verder bywoon nie weens sy ontwrigtende en onordelike gedrag.  Foto: Charné Kemp
George Peters, oftewel Barney, word Vrydag 17 Oktober deur polisielede uit die hofsaal vergesel nadat die hof gelas het hy kan nie sy en 15 ander se verhoor verder bywoon nie weens sy ontwrigtende en onordelike gedrag.
Foto: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Totaal van 117 aanklagte

Peters is glo die leier van die sogenaamde Hollanders-bende. Saam met sy 15 medebeskuldigdes word hulle gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld gemaak uit dwelmhandel. Vroue is glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.

LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ sê hy is ‘n ‘rolmodel, onskuldig’ en ‘het geen tatoeërmerke’

Peters se mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue (“sister-wives”) en vermeende makkers.

Vyf van die ses vroulike medebeskuldigdes het intussen hul rûe in die beskuldigdebank op hom gedraai en hulself van hom distansieer. Hulle het versoek dat hulle nie meer as sy vroue beskryf moet word nie. Hulle het nog die tatoeëermerke “Barney’s Property” op hul gesigte wat hulle met grimering probeer verbloem.

‘Regte aangetas’

“Die verhoor sal nie voortgaan totdat ek my kinders gesien het nie. Ek het ook regte as ‘n Suid-Afrikaanse burger,” het hy staande aan die hof gesê en geweier om te gaan sit, ondanks regter Stanton se vermanings.

Voorheen het hy ook gevra: “Wat het ek dan verkeerd gedoen?” Hy sê hy weier om verder na ander mense (getuies) se “stories” in die hof te luister.

Toe die regter hom vra of hy weier om saam te werk, het hy ja geantwoord. Hierna het sy gesê sy oorweeg om Artikel 159 van die Strafproseswet in te stel. Die artikel laat strafregtelike verrigtinge toe om voort te gaan in ‘n beskuldigde se afwesigheid weens ontwrigtende of onordelike gedrag. Die verhoor kan dan sonder die beskuldigde voortgaan.

LEES OOK: Borgtogaansoek van vermeende bendelede gaan lank duur

Bykans al 15 medebeskuldigdes het deur hul regsverteenwoordigers dié aansoek van die staat ondersteun. Hulle het aangedui hulle het ook die reg op ‘n spoedige verhoor. Hulle gaan nie langer dreigemente om die verhoor te vertraag duld nie. Van die vroue het gesê hulle as ma’s gaan nie hul kinders aan die trauma van die verhoor blootstel nie. Die vertraging kos tyd en belastingbetalers se geld. Die hof was tot nou baie geduldig en het agteroor gebuig om na Peters se versoeke te luister.

Dit blyk ook uit die betoë dat Peters en medebeskuldigde May mekaar nie meer kan duld nie. Hulle word apart vervoer en aangehou word weens die vyandigheid tussen hulle.

‘Hou hof gyselaar’

Regter Stanton het Donderdag aan Peters verduidelik dat hy na die staat se getuienis moet luister en dit met kruisondervraging toets, en dat hy die kans sal kry om sy eie saak te stel wanneer die staat sy saak sluit.

Die regter moet uiteindelik oor sy skuld of onskuld bereg.

Toe dit Vrydag uit die verdediging se ondersteuning van die staat se aansoek, en regter Stanton se uitspraak blyk dat sy hom nie meer gaan toelaat om die hof gyselaar te hou nie, het hy sy deuntjie verander. Hy het toe kliphard en uit sy beurt gesê hy sal homself van die verhoor verskoon en het na die selle probeer loop voor die gewapende polisielede hom gekeer het.

Die regter het aangedring dat hy na haar uitspraak en bevel sit en luister en stilbly, wat hy kwalik kon regkry. Hy sal nie meer in die verhoor toegelaat word nie weens sy gedrag. Hy sal elke dag die transkripsie van die verhoor ontvang. Lede van die korrektiewe dienste sal hom help om dit te lees.

Voorts sal Regshulp Suid-Afrika en maatskaplike werkers ondersoek instel of die kinders hom wil en mag sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article