Helikopter ongeluk Kalifornië
Nooddienste op die toneel in Huntington Beach, Kalifornië waar ‘n helikopter Saterdagmiddag neergestort het. Foto: Michael Heiman/Getty Images via AFP

VSA – Vyf mense is beseer toe ‘n Bell 222-helikopter Saterdagmiddag (11 Oktober) in Huntington Beach, in die suide van Kalifornië neergestort het.

Volgens ‘n berig op CBS News het die ongeluk omstreeks 14:00 (Kaliforniese tyd) naby ‘n parkeerarea plaasgevind. Twee mense wat binne die helikopter was is veilig uit die wrak bevry, en is saam met drie bystanders wat in die proses beseer is, na ‘n naby geleë hospitaal geneem.

Omliggende strate is ná die ongeluk toegemaak sodat die polisie met hul ondersoek na die voorval kon begin.

In een van die talle videos wat sedertdien op sosiale media versprei is kan die dramatiese oomblik gesien word toe die helikopter op ‘n gebou neerstort. Dit tol eers ‘n paar keer in die lig voordat dit dan vinnig hoogte verloor en neerval.

Polisie staan ​​wag voor ‘n helikopter wat op 11 Oktober 2025 op die Pacific Coast-hoofweg in Huntington Beach, Kalifornië, neergestort het. Vyf mense was na bewering aan boord en na ‘n plaaslike hospitaal vervoer. Foto: Michael Heiman/Getty Images via AFP

Die helikopter was glo deel van ‘n voorskou tot die Cars ‘n Copters op the Coast-geleentheid wat vandag (Sondag 12 Oktober) plaasvind. Dié geleentheid, ‘n geldinsameling vir die Huntington Beach-polisie en Gemeenskapstigting, het vanjaar vir 400 motors van verskillende vervaardigers en modelle asook private-helikopters reggestaan. Organiseerders van die geleentheid het Saterdag aan CBS News gesê hulle beplan nie om die geleentheid te kanselleer nie.

Hulle het dit Saterdag in ‘n plasing op die Cars ‘n Copters op the Coast-Facebookblad bevestig en hul simpatie met die betrokkenes in die “ongelukkige voorval” betuig.

Bronne: CBS News, AFP

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article