BLOEMFONTEIN – Die musiekwêreld is geruk deur die dood van Louis van der Watt (67) wat Dinsdag 30 September aan ‘n hartaanval oorlede is.

Van der Watt was ‘n man van vele talente – teoloog, pastoor, violis, strykerspedagoog, orrelis, eksaminator en koordirigent. Hy laat ’n buitengewone nalatenskap in albei die musiek- én kerkgemeenskap.

Van der Watt het in 2022 terug verhuis na Bloemfontein ná ‘n lang loopbaan in musiek.

Hy was vir baie jare verbonde aan die musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch (US), waar hy as senior lektor in viool en altviool gedien het, en later as hoof van die strykersafdeling. Sy toewyding aan musiekonderrig het diep spore in die lewens van sy studente en kollegas gelaat.

Van der Watt het ook ’n aktiewe loopbaan as uitvoerende kunstenaar en dirigent gevoer. Hy was betrokke by verskeie musiekinstellings en groepe, onder meer die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugsimfonieorkes, die Cape Performing Arts Board (CAPAB), die Kaapstad Kamerorkes, die Libertas-koor en die Canticum Novum-koor. Hy was ook vir jare ‘n hoogs gerespekteerde eksaminator vir beide UNISA en die Royal Schools of Music.

Sy akademiese uitnemendheid het hom gelei tot graadstudies in musiek en teologie, wat hy cum laude voltooi het aan die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch. Sy liefde vir kerkmusiek het op verskeie maniere tot uiting gekom – as orrelis, akademikus en later ook as geordende predikant. In 2012 het hy sy MMus in Kerkmusiek cum laude voltooi.

In 2020 is hy aan die fakulteit teologie van die US sy doktorsgraad met die proefskrif: The Reception of the Grace Formula in the Old and New Testament Theologies: A Hermeneutical and Theological Study verwerf.

Ná aankoms in Bloemfontein in 2022, het hy onmiddellik aktief en entoesiasties betrokke geraak by die musieklewe van die stad. Hy was onder andere lid van die Vrystaatse Simfonieorkes en die Rhapsodie-orkes, en het vir twee jaar as dirigent van die Cantando@Bloem-koor gedien. Verder het hy as orelis én pastoor diens gedoen by die St Paulus Lutherse Gemeente, waar hy ook georden is as pastoor.

Van der Watt het dikwels saam met die Barok Ensemble Insani Musici opgetree en die musikante Ilané van Wyk en Lauri Coetzee praat met groot lof en entoesiasme oor sy inspirasie en kennis wat hy gul met hulle gedeel het.

Van der Watt laat sy bejaarde moeder (94), sy drie kinders Elsa-Marié, Jani en Steyn, asook sy drie broers Danellus, Jacobus en Gideon, en ‘n suster, Elsa agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article