BETHLEHEM. Die hoof van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem sal dié skool aan die einde van die jaar vaarwel toeroep.
Hannes Oosthuizen, wat die afgelope 16 jaar aan Witteberg verbonde was, het die pos van hoof aan die Hoërskool D.F. Malan in Kaapstad aanvaar.
“As gesin is ons opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in ons lewe, en ons sien met verwagting uit na die pad wat vir ons in die Kaap uitgemeet is,” sê Oosthuizen.
Hy sê dit was vir hom ‘n voorreg, en verrykend, om 16 jaar lank deel van Witteberg te kon wees en daagliks die eggo’s op die stoepe en die gewerskaf kon beleef. Hy is dankbaar vir glimlaggende kollegas en kinders wat saam met hom kon droom en glo.
By dié skool, meen hy ook, kon hy die waarde van harde werk aanskou. Hy het gesien dat ‘n opreg positiewe ingesteldheid enige hindernis kan oorkom.
Die stap in die skadu’s van die populierbome, en soggens aantree terwyl die oostewind hom aan die Skepper herinner, sal hom altyd bybly.

Oosthuizen het ervaar dat Witteberg hom vlerke gee.
“Witteberg het my ‘n kans gegee om te mag dien en het my lewensverhaal ingekleur met wonderlike oomblikke en mense wat my altyd baie na aan die hart sal lê.”
Sarel Venter, voorsitter van die Hoërskool Witteberg se beheerliggaam, sê hy wil namens die hele Witteberg-gemeenskap opregte dank en waardering teenoor Oosthuizen uitspreek vir sy jarelange onbaatsugtige diens aan die skool.
“Sy passie vir onderwys, sy toewyding aan elke leerling en sy onwrikbare leiding het ‘n blywende invloed op die skool en gemeenskap gehad. Ons gaan hom en sy familie vir seker mis, maar gun hulle die nuwe uitdaging en geleentheid.”
Venter verseker elke lid van die gemeenskap dat Witteberg steeds op ‘n sterk fondament staan.
“Witteberg beskik oor ‘n bekwame en ervare bestuurspan, toegewyde opvoeders, en ‘n beheerliggaam wat saamwerk om die hoogste standaarde van onderrig en opvoeding te handhaaf. Hoërskool Witteberg is, en bly, ‘n skool wat groei.”
Die beheerliggaam bied die versekering dat die oorgang na nuwe leierskap vlot en professioneel hanteer sal word.
“Huidige én toekomstige ouers, wees gerus: Die Hoërskool Witteberg is nie net gereed vir die toekoms nie – ons is opgewonde daaroor, en ons sien baie uit die nuwe hoofstuk.”
- Hannes Oosthuizen se boodskap aan elke Witteberger:
Witteberg is meer as ons elkeen. Dit is nie net ‘n akademiese instelling met min gelyke nie, maar ook ‘n lewensreis waar elkeen meesterlikheid kan beleef. Dit is ‘n gewone skool wat die buitengewone vermag. Die personeel het ‘n ongelooflike omgee-kultuur geskep en weet dat elke kind die vermoë het om die toekoms te verander. Witteberg het ook die afgelope paar seisoene bewys dat hy nooit onderskat moet word nie en dat Sy genade vir hulle genoeg is. Ek kan vandag my kolf lig vir die skare en met dankbaarheid erkenning gee aan ‘n plek wat my gevorm en geleer het. ‘n Plek wat in nederigheid opkyk en mense bou. Bly vooruit leef, en weet dat ek julle almal gaan mis en vir julle lief is.





You must be logged in to post a comment.