‘n Moord en saak van huisroof word ondersoek nadat die liggaam van die 75-jarige Albertus Opperman vanoggend in sy huis in Pellissier in Bloemfontein gevind is.
Opperman was die afgetrede regimentsersantmajoor (RSM) van 1 Valskermbataljon by Tempe.
Die Parkweg-polisie wat die saak ondersoek sê daar word vermoed dat die moord tussen 07:20 en 08:30 gepleeg is.
Met die aankoms van die huiswerker vanoggend het sy twee onbekende mans in die huis in Siembambastraat 17 gevind. Hulle het gevlug toe hulle haar sien en sy het hulp by die bure ontbied.

Die bure het ‘n veiligheidsonderneming en die polisie in kennis gestel. Met hul aankoms, is die lyk van Opperman gevind. Hy is met ‘n mes in die bors gesteek en is op die toneel dood verklaar.
Sers. Mahlomola Kareli, woordvoerder van die polisie vra mense met inliging om die speurder wat die saak ondersoek, by 082 526 2653 te skakel.






You must be logged in to post a comment.