Sy speel week ná week haar hart uit en in die eerste wedstryd het sy ‘n driekuns behaal toe sy drie keer agter die pale gaan kuier het.
Aseza Hele, of Blommie soos sy alom bekend staan, is ‘n staatmaker in die Springbok-vrouerugbyspan en dié agsteman gee elke week haar beste. Die Boland-speler en inwoner van Hermanus lewe vir rugby en haar harde werk het vrugte afgewerp.
Saterdag speel die Springbokvroue in ‘n kwarteindwedstryd teen die gunstelinge, die Black Ferns van Nieu-Seeland. Volgens Aseza se Boland-afrigter, Thomas Chowles, het die Springbok-vroue ‘n goeie kans om die span van Nieu-Seeland die skrik op die lyf te jaag.
“Ek weet nie wat die afrigter, Swys de Bruyn, se wedstrydplan is nie, maar die Springbokke sal die Black Ferns fisiek moet takel en verhinder dat die bal hul agterlyn bereik. Die Nieu-Seelandse vroue se agterlyn volg ‘n ander plan, en ons sal nie duikslae kan mis nie, anders gaan hulle punte aanteken,” het Chowles gesê.
KYK:
Chowles, wat Aseza se spelpatroon en hart goed ken, stel voor dat De Bruin haar as nr. 6-flank moet gebruik. “Ek sou Blommie as die steelkantflank gebruik, want glo my, sy kan die losballe optel en kan maklik oor die voordeellyn kom. Met genoegsame ondersteuning kan hulle met die losvoorspelers genoeg momentum kry en dit dan in punte omskep.”
Chowles glo ook dat daar genoeg talent in die Springbokskap is om die Black Ferns te wen. “As die Springbokvroue werklik vir Nieu-Seeland wil klop, moet hulle net hul harte uitspeel en hulle voor aanpak.”
Elke keer as Aseza op die veld hardloop, voel Chowles soos ‘n trotse pa en pink hy soms ‘n traan weg oor haar prestasies. “As afrigter voel ek baie trots op haar en sien dat die harde werk wat ons die afgelope tyd ingesit het, vrugte afgewerp het. Sy is ‘n baie nederige en unieke speler wie se leierskap en motivering ‘n aanwins is vir enige span. Ek kan met eerlikheid sê Blommie het nie gegroei tot ‘n goeie speler nie, maar ‘n uitstekende speler,” vertel Chowles trots.
Blommie het uit Engeland met Hermanus Times gepraat: “Ek is so opgewonde oor Saterdag, dit gaan lekker, maar ‘n tough game wees. Dit was nog altyd my droom om teen die big dogs te speel.”
Die Springbokvroue speel op Saterdag 13 September om 14:00 teen die Black Ferns in die kwarteindstryd van die vroue-Wêreldbekerreeks in Sandypark in Engeland. Die Springbokke het in hul laaste groepwedstryd 57-10 teen die Franse verloor.


