Die gemeenskap van St. Helenabaai en die rugbygemeenskap is in rou gedompel ná die dood van drie plaaslike inwoners én die besering van nóg familielede in ‘n motorongeluk.
Randy Fillies, ‘n kranige St. Helenabaai-rugbyspeler, sy ma, Heidi Alexander, en sy suster, Rachèma Fillies, het in ‘n motorongeluk in die vroeë oggendure van Vrydag 8 Augustus gesterf. Die tragiese geeure het naby Wolseley plaasgevind.

Volgens raadslid Tyrone Williams, woordvoerder van die familie, het die 4×4-bakkie waarin die familie onderweg na ‘n begrafnis in Mosselbaai was, reg van voor met ‘n vragmotor gebots.
Volgens Williams was daar sewe passasiers in die bakkie. “Tans is die pa, Peter Alexander, steeds in die hospitaal en veg hy om sy lewe. Die een kind is ook in hospitaal en nog twee kinders word gemonitor.”

Die nuus van die ongeluk het soos ‘n veldbrand versprei en medelye op sosiale media het ingestroom.
Die St. Helenabaai-rugbyklub het op hul Facebook-blad geplaas dat die St. Helenabaai gemeenskap, die rugbyklubfamilie en die hele rugbygemeenskap in diepe rou is.
“Hierdie tragedie het ons almal hard getref en die hartseer lê swaar op ons harte. Ons het nie net geliefdes verloor nie, maar ook mense wat ons lewens en harte op ’n unieke en onuitwisbare manier aangeraak het.

In tye soos hierdie word ons herinner dat ons as gemeenskap en as klub meer as net spanmaats of bure is, ons is familie. Ons dra mekaar se laste, ons huil saam, en ons vind krag in mekaar se teenwoordigheid. Die nalatenskap van liefde, lojaliteit en passie vir rugby en vir St. Helenabaai wat Randy en Ma Heidi agterlaat, sal ons altyd dra en inspireer. Ons gedagtes en gebede is by Peter Alexander, die Fillies- en Alexander-families,” het die plasing gelees.
Williams meen hy het al baie families gesien wat geliefdes verloor het, maar hierdie is ‘n heeltemal ander prentjie. “Die familie is platgeslaan en stukkend.”







You must be logged in to post a comment.