Die gesogte Bernard Podlashuk Shiraz-trofee en kontantprys van R30 000 is aan Journey’s End toegeken. Hierdie toekenning erken produsente wat innovasie, volhoubaarheid, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid toon.
Journey’s End is die wenners van die gesogte Bernard Podlashuk Shiraz-trofee. Hier van links is Natasha van der Merwe (MC), Richard Duckitt (Bellingham), Thea van der Merwe (Journey’s End) en Kaylin Willscott (Journey’s End).

De Grendel het geskiedenis gemaak by die 2025 Shiraz SA Challange deur ’n ongekende drie plekke in die gesogte Top 12 Shiraz-kategorie te verower. Dit is die eerste keer in die kompetisie se 12-jaar geskiedenis dat ’n enkele produsent sulke uitsonderlike sukses behaal het.

Die wenners van Suid-Afrika se belangrikste Shiraz-kompetisie is Donderdag 7 Augustus tydens ’n feestelike funksie in die Paarl aangekondig. Die jaarlikse uitdaging vier die rykdom en diversiteit van plaaslike Shiraz-wyne, wat steeds groeiende internasionale erkenning geniet.

“Ons sien ’n volgehoue toename in innoverende en terroir-fokused wyne,” het Riaan Möller, voorsitter van Shiraz SA, gesê. “Die algehele gehalte is beter as ooit tevore, nie net in premium enkelvariëteit Shiraz nie, maar ook in versnitte en rosé.”

Van die 173 inskrywings van regoor Suid-Afrika se wynstreke, het Stellenbosch die meeste wyne gelewer.

Die beoordelaarspaneel is gelei deur Edmund Terblanche, keldermeester by La Motte en stigtersvoorsitter van Shiraz SA. Hy is bygestaan deur wynmaker Elzette du Preez (voorheen van De Grendel), Morgan Steyn van De Grendel, en die egpaar Samarie Smith-Meletiou en Georgio Meletiou.

“Dit is bemoedigend om beide klassieke en kontemporêre interpretasies van Shiraz te sien wat met soveel sorg gemaak word,” het Möller gesê. “Van kragtige, gestruktureerde wyne tot vars, heel-tros gefermenteerde style – die diversiteit van uitdrukking is iets waarop Suid-Afrika trots kan wees.”

Shiraz Challenge 2025 wenners.
Hier is die 2025 Shiraz SA Challange wenners, voor van links:: Daniela Jansen (Saronsberg), Tom Lennon (MAN Vintners), Mari Branders (Diemersdal), Thea van der Merwe (Journey’s End), Danielle Marais (Babylonstoren), Klaas Stoffberg (Babylonstoren) en Kaylin Willscott (Journey’s End). Agter: Natasha van der Merwe (MC), Johan Jordaan (Spier), Tertius Boshoff (Stellenrust), Morgan Steyn (De Grendel), Riaan Möller (Shiraz SA Chairperson), Ursula Erasmus (Tokara), Rudi von Waltsleben (Von Wines), Andrew de Groot (Fermentis Lesaffre), Dean Fourie (Guardian Peak), Gerhard Swart (Flagstone) Johan Conradie (Vinventions) en Susan Erasmus (Eerste Hoop). FOTO: A. Gorman Fotografie

Volledige lys van wenners

Shiraz Top 12:

• Babylonstoren Shiraz 2022
• De Grendel Op die Berg Syrah 2023
• De Grendel Op die Berg Syrah 2022
• De Grendel Shiraz 2021
• Diemersdal Shiraz 2023
• Diemersdal Syrah 2023
• MAN Vintners Skaapveld Syrah 2024
• Saronsberg Provenance Shiraz 2023
• Stellenrust Artisons Blueberry Hill Shiraz 2023
• Stellenrust Artisons Missing Link Shiraz 2023
• Tokara Shiraz 2022
• Von The Sir Shiraz 2023

Shiraz-gedrewe versnitte:

• Babylonstoren Babel 2023
• Flagstone Velvet Shiraz Blend 2023
• Guardian Peak SMG 2022
• Saronsberg Full Circle 2022
• Spier Creative Block 3 2021

Rosé:

• Eerste Hoop Shiraz Rosé 2025

Journey’s End wen prestige Bernard Podlashuk-trofee

Die gesogte Bernard Podlashuk Shiraz-trofee en kontantprys van R30 000 is aan Journey’s End toegeken. Hierdie toekenning erken produsente wat innovasie, volhoubaarheid, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid toon.

Journey’s End is die vierde wenner van hierdie gesogte toekenning, wat deur ’n gerespekteerde paneel onder leiding van Francois Haasbroek geëvalueer is. DeMorgenzon en Stellenrust is as finaliste aangewys.

Sterk vennootskappe ondersteun uitnemendheid

Vinventions SA bly die hoofborg van Shiraz SA sedert 2013, terwyl Fermentis Lesaffre vanjaar vir die eerste keer aangesluit het. Port2Port is as amptelike verkoopsvennoot aangewys en sal al die bekroonde wyne op hul webwerf vertoon.

Wynliefhebbers kan uitsien na ’n sorgvuldig saamgestelde 12-bottel pakket van die Top 12, wat deur Pieter Badenhorst van For the Love of Wine saamgestel sal word.

Nasionale Shirazdag vier sukses

Shiraz SA nooi alle wynliefhebbers uit om saam te vier op Nasionale Shirazdag, Donderdag 21 Augustus. “Die Shiraz SA Challenge hou aan om die standaard vir Suid-Afrikaanse wyn te verhoog,” het Möller afgesluit. “Elke jaar bring nuwe stories, nuwe uitdrukkings, en bowenal, ’n onwrikbare toewyding aan uitnemendheid.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article