KIMBERLEY – Daagliks sterf behoeftige Noord-Kapenaars in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley weens ‘n “ingewortelde en deurdrenkte kultuur van wanbestuur, ongevoeligheid en gebrek aan empatie wat van amptenare na sekere personeellede filtreer.”
Dit is die mening van ingeligtes in mediese en politieke kringe in reaksie op die verdoemende ondersoekverslag van die gesondheidsombudsman, Prof. Taole Mokoena, in samewerking met die Menseregtekommissie (MRK).
Makoena het bevind die oorsaak van twee psigiatriese pasiënte se dood was weens wanbestuur, gebrek aan aanspreeklikheid en swak stelsels by die Noord-Kaapse Geestesgesondheidshospitaal (NCMHH) en RMSH, albei in Kimberley.
Nadat die MRK hul ondersoek meer as ‘n jaar gelede begin het kort ná die mans se dood, het nóg dr. Zamani Saul, premier, nóg Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, die naasbestaandes besoek om simpatie te betuig. Saul het ook nog geen amptelike verklaring uitgereik nie, terwyl Lekwene noodgedwonge ‘n taakspan aangestel het om forensiese ondersoek te doen en verbeterings te bespoedig.
Volgens ingeligtes is dit nie net die betrokke pasiënte se dood wat skreiend is nie, maar ander weerloses wat daagliks in die RMSH sterf weens ‘n gebrek aan ‘n politieke en administratiewe verantwoordbaarheid.
Een van hulle sê daar is “gelukkig nog dokters en personeel wat diep omgee en uiters hard werk onder uiters uitdagende omstandighede om die wankelende stelsel staande te hou.”
Diegene met wie NoordkaapBulletin gepraat het, meen oor die algemeen het die “menslike omgee, passie en goeie pasiëntsorg sedert 1994 drasties agteruitgegaan”.
Die hospitaal met sy nuwe naam was volgens een van hulle “eens bekend as die gerespekteerde akademiese Kimberley Hospitaal-kompleks (KH) waar selfs die susters waardevolle navorsing gedoen het”.

Gebrek aan passie, liefde omgee die standaard
‘n Oud-verpleegster wat van 1982 tot 2010 by RMSH gewerk het, sê sy het bedank omdat sy die dalende standaarde en gebrek aan “passie, liefde en omgee” nie meer kon verduur nie.
“Gesonde mense gaan nou dood in RMSH,” sê sy.
“Ek was onlangs geskok om te sien hoe min verpleërs daar in die noodgevalle-afdeling is. Pasiëntelêers wat eens ordelik was, is in ‘n chaos. Mense moet ure lank in rye staan vir lêers. Die plek is vieslik vuil, die toilette ‘n gemors. Pasiënte moet hul eie linne en komberse bring weens ‘n gebrek aan skoon en higiëniese beddegoed.
“Sommige verpleërs het argeloos verby pasiënte geloop wat om hulp smeek. Pasiënte lê op draagbare in die gange.”
Verpleegters loop met “onversorgde haardosse en werk met lang, gekleurde naels en juwele. Dit skep gevaarlike toestande vir pasiënte.
“In my dae was die sale skoon en higiënies. Ons het pasiënte gereeld omgedraai, gewas en gesorg dat hulle warm kos kry. Die linne was volop en gereeld gewas. Bedpanne is gereeld aangedra en omgeruil. Ons het in noodgevalle self pasiënte rondgestoot en inisiatief gebruik om bloeddruk en hartklop te neem en bloedtoetse te laat doen. Pasiënte het hul medikasie op tyd gekry. Pasiënte wat goed verpleeg en behandel is, het vinnig herstel.”
Verpleërs het gereeld aan susters, en susters aan hul matrones rapporteer en goeie rekord van behandeling gehou.
“Ons het dissipline en respek vir ons meerderes gehad. Teen die einde van my loopbaan was daar nie eens genoeg toerusting soos bloeddrukmeters nie, wat van kardinale belang is in gesondheidsorg. Die wassery was so swak dat linne na Upington toe gestuur is om gewas en stryk te word,” sê sy.
Kultuur van ongevoeligheid, onverantwoordbaarheid heers
Nog ‘n vrou sê sy hou nou haar pasiëntelêer by haar, omdat dit al vier keer tevore weggeraak het.
‘n Dokter in die hospitaal wat ook anoniem wil bly, sê die kultuur van ongevoeligheid en onverantwoordbaarheid is “so ingewortel dat dit aanvaarbaar geword het.
“Was dit nie vir sekere dokters, aptekers en susters wat nog werklik omgee nie, het die hele stelsel inmekaar gestort.”
Volgens haar is daar min sprake van menseregte in die staatshospitaal en is die sisteem onherstelbaar gebroke.
“Die departement se radio-onderhoude op gemeenskapradiostasies om te verkondig hoe baie hulle omgee, is lagwekkend en skynheilig.”
Dokter, werksaam by die RMSH
“As ek nie oorsee gewerk het nie, sou ek nie besef het hoe oplettende verpleërs eintlik hul pasiënte so goed moet moniteer dat hulle dadelik ‘n dokter in kennis moet stel wanneer die pasiënt se suurstofnood byvoorbeeld verswak nie. ‘n Paar jaar gelede het die eenheidsbestuurder by RMSH nie geweet die gereelde neem van byvoorbeeld bloeddruk is een van die belangrikste metodes om pasiënte se toestand te moniteer nie.”
Die nuwe uitvoerende hoof van die RMSH was sedert sy aanstelling laat verlede jaar nie “naby haar saal” om te vra wat die uitdagings is en hoe hy dit kan verbeter nie.
Sy sê daar is min sprake van opleiding en mentorskap, want sommige senior dokters en konsultante bedryf florende privaatpraktyke eerder as om staatspasiënte te behandel.

“Eerder as om slegs agt ure per week buite kantoorure aan hul privaatpraktyke te bestee, lyk dit asof sommiges net agt ure in die staatshospitale werk.
“In die volwasse onkologiesentrum by die RMSH was daar die afgelope jaar geen senior dokter teenwoordig nie. Weens sommige konsultante se gedurige afwesigheid moet arme junior dokters lewensveranderende besluite oor pasiënte neem wat uiters gevaarlik is.
“Dit is onregverdig dat vingers nie ook na die senior administratiewe amptenare in die verslag gewys word nie. Hulle moet die pas aangee en sorg dat die stelsels en personeel werk.
“Soggens sit die hulpverpleegsters vroeg al met oorfone in hul ore, op hul selfone besig met sosiale media. Is hulle aangestel omdat hulle ‘n werklike passie en die regte kwalifikasies vir verpleging het? Ek twyfel.”
Dokter, werksamig in RMSH
Daarbenewens is die hospitaal en die infrastruktuur stokhoringoud.
“Die wassery is lankal buite werking, daar is nie water in die pype nie, nie eens warm water in die middel van die winter nie. Bitter min teaters is in werking, want ‘n paar het weer verlede week oorspoel. Sowat 800 pasiënte is op die waglys vir operasies,” sê sy.

‘Ek sou doodgaan daar’
‘n Bejaarde vrou, wat einde verlede jaar haar heup gebreek het, se familie het noodgedwonge besluit om haar na ‘n privaathospitaal te verskuif waar die heup-operasie gedoen is. Nie net het sy gehoor dat sy dalk tot ses weke “of dalk nog langer” vir ‘n operasie sal moet wag nie, maar moes sy en die ander pasiënte in die saal die bloedige somerhitte trotseer.
“Die saal se lugreëling was buite werking, en die middagson het die saal kookwarm gebak. Snags is die vensters oopgelos, maar dan het muskiete op ons toegesak.”
Met haar opname in die nag by ongevalle het die ligte in die kantoor nie gewerk nie en moes die persone wat die inligting op die rekenaar invoer, slegs van die rekenaarskerm se lig gebruik maak. Dit het veroorsaak dat van haar noodsaaklike inligting verkeerd ingevoer is.
Met haar skuif vanuit die ongevalle-afdeling na die ortopediese saal is sy rofweg oor die parkeerterrein in haar hospitaalbed vervoer. Verpleegkundiges het nie omgegee of die swaaideure in van die gange met ‘n slag teen haar bed toeslaan nie – dit terwyl pynmedikasie skraps uitgedeel is.
Met haar verskuiwing na die privaathospitaal het die hysbakke nie gewerk nie. Twee spanne ambulanspersoneel moes haar, met ‘n pynlik gebreekte heup, op ‘n draagbaar vasspalk en by die stelle trappe afdra.
“As my kinders my nie uit daardie hospitaal verskuif het nie, het ek daar doodgegaan,” sê sy.
Volgens haar is daar enkele van die verpleegpersoneel wat omgee toon, en wie die pasiënte wil help. “Maar hulle word deur die omstandighede daar, en hul aggressiewe kollegas wat heeltyd op hul fone is, of klets, verhoed om dit te doen.”
‘Hospitaal en sy personeel aaklig’
ʼn Vrou in haar sestigs wie se dogter verlede jaar in die hospitaal dood is, weet nou nog nie wat presies fout gegaan het nie.
“My kind was vooraf sieklik, maar wou om die dood nie na die hospitaal gaan nie. Uiteindelik het sy ingestem. Sy is die aand vir operasie geneem weens water op haar longe. Sy het lank geneem om by te kom ná die operasie, maar ure later was sy dood, glo aan natuurlike oorsake. Ek is seker haar lewe kon gered word.
“Toe ek by die saal aankom wou ons met die dokter praat. Die verpleegpersoneel was uiters ongeskik en het geweier om my dogter se pasiëntelêer aan ons te gee. Toe ek vra waar my dogter se oorskot is, het een verpleër met ‘n vies uitdrukking op haar gesig na die trollie gewys. Dit was asof sy van ‘n hond gepraat het. Nie een van hulle het enige simpatie en empatie met my dogter se dood uitgespreek nie. Die hospitaal en sy personeel is aaklig.”
- Die premier se kantoor het op Dinsdag 5 Augustus om 16:30 sy kommentaar oor die ombudsman se verslag uitgereik:








You must be logged in to post a comment.