Paarl Post

Inwoners vind lyk van Gouda-bejaarde meer as twee weke ná sy spoorloos verdwyn

Katriena Smit (68), 'n bejaarde van Gouda wie vir meer as twee weke vermis was, se lyk is Maandag (4 Augustus) gevind.
Katriena Smit (68), ‘n bejaarde van Gouda wie vir meer as twee weke vermis was, se lyk is Maandag (4 Augustus) gevind.

‘n Soektog wat meer as twee weke geduur het na die vermiste Gouda-bejaarde, Katriena Smit (68), het Maandag (4 Augustus) tot ‘n hartseer einde gekom toe haar lyk in ‘n beboste gebied naby ‘n waterkanaal aan die ooste van Gouda gevind is.

Haar lyk was reeds besig om te ontbind, het ‘n inwoner wat sedert 18 Julie met die soektog gehelp het, aan Paarl Post vertel.

Volgens Jonathan April, wie die dorp se inwoners gemobiliseer het om te help soek, het hulle kort ná 15:00 Maandagmiddag op haar lyk afgekom.

“Die vermoede is dat sy dalk oor ‘n heining probeer klim en moontlik geval het. Haar een skoen was uit haar voet uit en haar sokkie het aan die heining se draad gehang.

“Haar liggaam was reeds besig om te ontbind. Dit het ook gelyk asof een of ander gedierte aan haar voet begin vreet het.

“Ons vermoed dat sy al in die vroeë dae van haar verdwyning gesterf het. Dit is hartseer want dit was koud en het baie gereën in daardie eerste dae nadat sy as vermis aangemeld is,” sê April.

Paarl Post het die afgelope twee weke berig oor Smit se verdwyning.

Die polisie se honde- en duikeenhede was in ‘n stadium tydens die soektog ingespan.

LEES: Gouda-bejaarde steeds vermis, polisieduikers soek in Bergrivier

Volgens haar familie het sy glo Alzheimer se siekte gehad, en vermoedelik Donderdag (17 Julie) verdwaal op pad huistoe.

Volgens Lee-Ann Smit, haar dogter, het haar ma, stiefpa en hul kleinkind daardie Donderdag huistoe gestap.

Die een oomblik het haar ma nog agter gestap en toe haar stiefpa weer omkyk, was sy weg.

“My stiepa het toe hier by die huis kom vertel dat hy nou nie weet wat van haar geword het nie.

“Ons het toe dadelik na haar gaan soek. Toe dit Donderdagaand (17 Julie) begin donker raak was ons regtig bekommerd.

“Ons het deur die nag na haar gesoek. Daar was mense wat gesê het hulle het haar naby die vleilande by die waterblommetjies gesien. Dis toe waar ons daardie nag gaan soek het,” het auntie Katriena se dogter vroeër aan Paarl Post vertel.

Leidrade het hulle gelei tot by vleilande aan die buitekant van die dorp nadat inwoners glo gesien het hoe sy oor ‘n laagwaterbrug stap.

Daar was ook in ‘n stadium bewerings dat sy in ‘n voertuig met ‘n CK-registrasie (Malmesbury) geklim het, wat die polisie glo gesukkel het om op te volg nadat die ooggetuies geen verdere beskrywing van die voertuig of registrasienommer kon gee nie.

Die polisie en gemeenskapslede het die afgelope twee weke die beboste landelike gebied aan die ooste van Gouda gefynkam.

“Die laaste tyd was my ma maar baie deurmekaar. Sy het gepraat van mense uit haar grootwordjare daar in Porterville. Mense wat ons nie ken nie.

“Sy het na hulle gesoek en ons het toe later uitgevind dat baie van die mense van wie sy praat lank reeds oorlede is.

“Sy is glad nie iemand het rondwaal nie so ons vermoede is dat sy moontlik deurmekaar geraak het en dalk iewers is sonder dat sy weet haar familie soek is. Ons wense is dat ons haar veilig sal vind,” het Smit voorheen gesê.

Paarl Post verstaan dat auntie Katriena se man nog in die Porterville-hospitaal behandel word nadat hy die eerste aand van die soektog op 17 Julie sy been beseer het.

Volgens April gaan dit waarskynlik moeilik wees vir die familie om die nuus met hom te deel.

“Hy het uit die hospitaal uit gereeld gevra hoe dit met die soektog gaan en ook aangedui waar daar moontlik gesoek kan word,” vertel April.

Die Tulbagh-polisiekantoor, waaronder Gouda val, kon nie by navraag vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article