As jy die 75-jarige man daar in die voetpaadjies van Clara Anna Fontein in Durbanville sien stap dat die stof trek, wéét dat jy kyk na die Suid-Afrikaanse en Afrika-rekordhouer in meestersnelstap.
Piet Pretorius, ‘n oudpolitikus met meer as 40 jaar in een of ander hoedanigheid by die parlement en Wes-Kaapse wetgewer, het op 19 Julie dié rekord verbeter by die Westelike Provinsie Meestersnelstap-kampioenskap, wat by die Youngsfield Militêre Basis plaasgevind het.
Pretorius neem in die ouderdomsgroep 75 tot 79 jaar deel. Hoewel hy as jong man aan dié sport deelgeneem het, het die gogga weer gebyt toe hy tydens die Covid-19-inperking om en om sy huis begin stap het om oefening te kry.
Pretorius was vir die eerste 30 jaar van sy werksloopbaan by die parlement en die Wes-Kaapse wetgewer betrokke as ‘n amptenaar en uiteindelik die sekretaris van die Wes-Kaapse wetgewer. Hy is in 2009 as lid van die Nasionale Vergadering verkies, maar is in 2012 deur die Demokratiese Alliansie na die Wes-Kaapse wetgewer oorgeplaas, waar hy as adjunk-speaker verkies is – ‘n amp wat hy beklee het tot met sy uittrede uit die politiek in 2019.
Sy rekordtyd in die 10 km-padwedloop was 63:16 – 29 sekondes vinniger as die vorige rekord!
Eerste stapwedloop
Die eerste stapwedloop waaraan hy as 25-jarige jongman in 1975 deelgeneem het, was die Groot Stap, wat destyds jaarliks op 10 Oktober van die Parade in Kaapstad na Simonstad en terug oor ‘n afstand van 80 km plaasgevind het.
“Ek het ingeskryf sonder enige behoorlike oefening en met geen helper nie – net ‘n paar munte in my sak ingeval ek sou swaarkry en die trein moes haal terug Kaapstad toe!” vertel hy. Hy het egter deurgedruk en algeheel tiende geëindig – die voorste nuweling in die wedloop. Die jaar daarna was hy algeheel derde, en nog ‘n jaar later algeheel tweede onder die aansporing van sy vrou, Dot, langs die pad. Hy het toe sy Westelike Provinsie-kleure in snelstap verwerf.
“Ek het my staploopbaan daarna vir baie jare op die agtergrond geskuif weens gesins- en loopbaanverpligtinge, en eers weer tydens Covid-19 begin stap.”
Toe byeenkomste weer toegelaat is, het hy by die Bellville-atletiekklub en Meestersatletiek aangesluit. Sy tye het geleidelik verbeter en in 2021 het hy sy nasionale kleure in snelstap verwerf.
Hy was daarna elke jaar die wenner in sy ouderdomsgroep by die WP-kampioenskap en het ook albei kere wat hy sedert 2021 aan die SA Meestersatletiekkampioenskap deelgeneem het, goud verwerf – die mees onlangse vroeër vanjaar toe hy nog in die ouderdomsgroep 70 tot 74 jaar deelgeneem het.
Sy volgende groot uitdaging is die SA kampioenskap, wat vroeg in Mei aanstaande jaar in Germiston sal plaasvind.

Stappaadjies
Pretorius en sy vrou woon die afgelope 18 maande by Oasis Life in Clara Anna Fontein, waar ook sy seun Danie, sy vrou Lorna, en hul twee kinders, Emily en Daniel, bly – “sommer langs my stappaadjie”.
“Die omgewing en die natuurskoon vra vir oefening en ek geniet elke oomblik daarvan. Stap is ook betreklik beseringsvry en eenvoudig ‘n wonderlike manier om oudword so effe op die agtergrond te probeer hou!” vertel hy.
“Ek stap weekliks ongeveer 50 km – 10 km vyf keer per week, gewoonlik vroeg in die oggend wanneer dit lekker koel is. Ek stel een maal per maand vir my ‘n tyddoelwit en probeer dan om op my persoonlike beste tyd vir die roete te verbeter. Clara se paadjies is uitdagend met heelwat heuwels – dit help beslis vir fiksheid. En dis ook sommer lekker om elke dag so aan die oefen verby ons kinders se huis in die groter landgoed te kan stap en vir die kleinkinders oor die heining te kan groete skree!”
Só het hy die afgelope sowat 14 maande al meer as 2000 km op hierdie paadjies afgelê!
Krieket
Hy was sy lewe lank met een of ander sport doenig: krieket op skool, later klubkrieket en jare lank ook sosiale krieket vir die parlementêre krieketspan saam met oud-parlementariërs soos Sir De Villiers Graaff, sy seun Sir David Graaff, Van Zyl Slabbert, John Wiley, Colin Eglin, Alex Boraine, Barend du Plessis en vele ander. Hy het op universiteit ook pluimbal gespeel en lank sosiale gholf by die Bellville-gholfklub. Hy het ‘n paar Kaapstad-fietstoere gery, al die Twee Oseane-marathon gedraf en ook enkele ander marathons en halfmarathons voltooi.
Pretorius het ook vir jare metaalverklikking (veral op die strand) gedoen. “Met al my stappery het dit bietje agterweë gebly; hopelik sal ek dit later weer meer gereeld doen.”
Hy hou ook van skryf en die afgelope jare is sowat 10 rubrieke van hom in Die Burger/Beeld/Netwerk24 gepubliseer – onder meer oor onderwerpe rakende die parlement.







You must be logged in to post a comment.