‘n Opvoeder by die Wagenmakersvallei NGK Primêre Skool in Wellington is tydelik gekors en sal nou in ‘n tugverhoor moet verskyn te midde van bewerings dat hy seksueel suggestiewe briefies aan twee gr. 6-skoolmeisies geskryf het.
Die twee kinders se ouers het strafregtelike klagtes by die Wellington-polisie teen die opvoeder aangemeld.
Sy identiteit is aan Paarl Post bekend.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, die bevelvoerder by die Wellington-polisiekantoor, kon die polisie die beweerde verdagte nog nie ondervra nie omdat speurders sukkel om die nodige bewyse en getuienis te versamel. Barkhuizen het wel bevestig die polisie se ondersoek duur voort.
‘n Aktivis en inwoner wat met die kinders en hul ouers gewerk het om die saak by die polisie en Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aan te meld, het vandeesweek op voorwaarde van anonimi- teit aan Paarl Post gesê die skool en polisie is reeds in Februarie vanjaar oor die opvoeder se beweerde gedrag ingelig.
“Hierdie twee skoolmeisietjies het gepraat nadat plaaslike aktiviste, in same- werking met die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, ‘n veldtog by die skool gehad het. Die fokus van die veldtog was om kinders op te voed oor hul liggame en hul regte en om te praat wanneer volwassenes hulle ongemaklik laat voel.
“Hul ouers het toe die saak by die plaaslike ACVV se maatskaplike werkers gaan aanmeld, wat toe gehelp het om die onderwysdepartement en polisie te betrek.
“Die bewerings is dat hy [die opvoeder] briefies aan hierdie twee meisietjies geskryf het waarin hy die een oor haar privaatdele komplimenteer. In die ander briefie het hy gesê hoe groot sy privaatdele is en dat hy graag seksueel met haar wil verkeer,” het die inwoner vertel.
Die opvoeder het glo weer die briefies by die meisies afgeneem nadat hulle dit gelees het.
Die inwoner sê ouers is ontvrede oor die wyse waarop met die saak gesloer word.
“Die een meisietjie se ouers wou aan- vanklik nie ‘n strafsaak aanmeld nie, maar toe hulle wel bereid was, is hulle al die pad Paarl-polisie toe omdat die speurder wat die saak in Wellington hanteer het, op kraamverlof was. Dit is baie ernstige bewerings, dus sou die verwagting wees dat die dossier na ‘n ander speurder oorgeplaas sou word,” sê die inwoner.
Paarl Post kon by verdere ondersoek bevestig dat die beweerde oortreder die stigter van ‘n plaaslike krieket-akademie is. Die koerant is meegedeel dat groot borge van die krieket-akademie intussen te midde van die bewerings onttrek het.
Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het by navraag bevestig dat die beweerde voorval onder hul aandag gebring is.
“Die ouers het die voorval by die polisie asook die skoolhoof aangemeld. Ons kan bevestig dat die betrokke opvoeder aan die einde van verlede kwartaal as ‘n voorsorgmaatreël tydelik geskors is.
“Die ondersoek is intussen afgehandel.
“Die opvoeder is van wangedrag aangekla en sal ‘n tugverhoor in die gesig staar,” het Hammond gesê.





